Jan-Hendrik van der Westhuizen stel sy tweede boek bekend
Die eerste Suid-Afrikaner wat ’n Michelin-ster ontvang het, Jan-Hendrik van der Westhuizen, het sy tweede boek, JAN, my Franse kosverhaal, in Middelburg bekendgestel.
By dié stylvolle oggendfunksie, het Jan-Hendrik sy Franse kosverhaal gedeel by die Cabbage and Rose Country Venue by Glen Cullen Estate.
Hy het die mense aan sy lippe laat hang terwyl hy sy kosreis, van mieliessmous tot Michelin-ster, vertel het.
Jan-Hendrik is baie nederig en vergeet nie waar hy vandaan kom nie.
“Daar is iets in Middelburg se water, want hier kom nét goeie mense uit hierdie dorp. Hier sit vanmôre mense wat blompotte, wat ek uit ou uitlaatpype gesweis het, by my gekoop het toe ek klein was. Selfs van my onderwysers is hier om hierdie spesiale dag saam met my te vier. Die ondersteuning van Middelburg is ongelooflik.”
Hy het ook tyd gehad vir elke liewe persoon (en daar was baie) wat ’n foto wou neem, ’n vragie wou vra of sommer net ’n geselsie wou aanknoop.
Jan-Hendrik het vertel hoe JAN, sy restaurant in Nice, Frankryk, begin het en deur al die groeipyne geworstel het om die eersteklas restaurant te wees wat dit vandag is.
“Ek was ’n persoonlike sjef op ’n boot vir ’n Sweedse gesin. Die man het my toe genader en gesê dat ek my kos met die wêreld moet deel. Hy het ingestem om my vennoot te word en só het die idee van JAN begin.”
Alles het egter nie so vlot verloop nie en ’n paar struikelblokke het oor sy pad gekom.
“Net voor ons die kontrak moes teken, het my vennoot kop uitgetrek. Ek’t besef dat dit nou of nooit is en het gelukkig ’n ander vennoot gekry. Die Franse is baie streng en die bouers nie vreeslik betroubaar nie. Ná ’n groot gesukkel, het JAN uiteindelik oopgemaak.”
Met die openingsaand het dinge egter ook nie té vlot verloop nie.
“Die taalgrens het dinge bemoeilik en my bestellings was gedurig verkeerd interpreteer – lewendige eende in plaas van kwartels het opgedaag of in plaas van spek, is daar ’n hele vark, pens en pootjies in die lug, afgelewer. Die krag het ook kort-kort afgegaan. Ek het die bottel mampoer, wat my Pa vir my saamgestuur het, na die badkamer gevat en daar moed geskep om deur die aand te kom.”
Nodeloos om te sê, het hy die aand oorleef, maar toe besluit om eerder sy personeel in te voer van Suid-Afrika af.
“Dit was ’n gesukkel omdat die Franse wou weet waarom ek nie Franse aanstel nie. Ek’t eenvoudig my vereistes vir die poste verduidelik: die persone moet Afrikaans kan praat en Suid-Afrikaans kan kook. Die lys van kandidate het onmiddellik van 200 000 na nul gesak. Ek kon toe boeremense aanstel en JAN het soos ’n goed geoliede masjien gefunksioneer.”
Die restaurant is agt maande ná die opening in 2013 reeds in die Michelin Guide genoem en Jan-Hendrik het besef dat hy iets spesiaal beet het.
“JAN is in 2015 as een van die wêreld se 15 beste opkomende restaurante aangekondig deur Conde Nast Traveller en ek en my span het geweet dat ons harde werk besig is om af te betaal.”
Die aand toe die Michelin-ster aan hom toegeken is, het hy eers nie sy foon geantwoord nie.
“Een van my personeellede het aanhoudend vir my gesê dat ek ’n dringende oproep het, maar ek was besig om te werk. Ek’t op my foon gekyk of my familie en vriende almal nog reg is, en toe aangegaan. Ek’t eers op pad huis toe, in die vroeë oggendure, gedink om tog maar die nommer te bel, want dalk is dit my buurman wat weer oor die vullis wil kla.”
Dit was nie toe sy buurman nie, maar Michelin wat hom gelukwens met sy Michelin-ster.
Hy mag egter eers oor twee dae, ná die mediabekendstelling, mense in kennis gestel het van sy prestasie.
“Ek het onmiddellik 30 mense gebel en laat belowe om niemand anders te vertel nie. Hoe hou mens sulke tipe nuus vir jouself vir twee dae lank!”
Jan-Hendrik het sy praatjie afgesluit met bemoedigende woorde wat getuig van die tipe mens wat hy is.
“Elke keer as iets skeef loop, sê ek net vir myself dat dit maar nét ’n restaurant is, dit maar nét kos is. Ek sê ’n gebedjie op, drink ’n wyntjie en weet dat alles fine sal wees. Jy moet weet en glo dat jy in staat is tot enigiets. Met harde werk kán jy dit doen wat jy wil.”
• Gaan na www.mobserver.co.za om die bekendstellingsvideo van Jan-Hendrik se nuwe boek, JAN, my Franse kosverhaal, te sien.
• Besoek gerus sy webblaaie by www.janhendrik.com en www.restaurantjan.com of volg hom op Facebook: JAN HENDRIK of op Instagram: JANHENDRIK2016.



