NewsUpdate

Opvolg: Skote op voertuig geskiet

Een van die mans wat Donderdagnag gewond is toe skote op hul voertuig gevuur is, se toestand is steeds ernstig.

“Dit is ‘n lafaard wat sulke goed doen. Maar dit is die Suid-Afrika waarin ons bly,” het me. Natasha van Tonder Maandagoggend gesê.

Haar seun, Marno (24), word steeds in die intensiewe eenheid van die Kosmos Hospitaal behandel, nadat hy getref is toe daar op sy Ford Bantam bakkie losgebrand is. Sy vriend, Hardus Truter (24), is deur skrapnel in die kop gewond. Hy is Vrydag in die vroeë oggendure ontslaan, nadat dokters nie die skrapnel uit sy kop kon kry nie.

Hardus se pa, Gerhard, het Vrydagoggend van die skokkende gebeure vertel.

Sy foon het kort voor middernag gelui en hy het gesien dit is sy seun wat bel, maar Hardus het nie gepraat nie. Die volgende oomblik het hy skote hoor klap.

Hy was buite homself van bekommernis, want het besef daar word op sy seun geskiet, maar nie geweet waar nie.

Hardus het hom vroeër die aand gebel en gesê hy en sy vriend ry vanaf Middelburg om by hom te kuier en hy het nie op daardie stadium geweet waar die seuns is nie.

Sowat tien minute nadat hy die skote gehoor het, het die voertuig voor sy oprit in eMalahleni gestop.

Hardus het uitgeklim en in die rigting van sy pa geloop, maar in sy arms flou geword. Mnr. Truter het dadelik die bloed aan sy kop gesien en besef dat sy kind raakgeskiet is.

Hardus het weer sy bewussyn herwin en sy pa gevra om Marno te gaan help.

Marno het aanvanklik gesê hy het niks oorgekom nie, maar die gat in sy sy is kort daarna ontdek.

Die twee jong mans het Donderdagaand iets gaan eet by Amazon’s, Restaurant.

Die twee het omstreeks 23:00 op die ou Middelburg/eMalahleni pad gery en hulle het opgemerk dat ‘n wit voertuig hulle verbysteek.

Die insittendes in die voertuig het nog vir hulle gewaai, waarop die skote begin klap het. Marno het besluit om vir hul eie veiligheid aan te hou ry tot by Hardus se huis in eMalahleni.

Nie een van die twee het ‘n idee gehad waarom daar op Marno se voertuig geskiet is nie.

Volgens me. Van Tonder is ‘n operasie op Marno gedoen, waartydens ‘n stuk dikderm, asook ‘n groot gedeelte van sy dunderm, verwyder is. Die projektiel is by sy regtersy in, waar dit deur die onderkant van sy maag (dik- en dunderm) en weer aan die anderkant van sy lyf uit is.

• Marno se vriendin van etlike jare, Shanna Marcay, het Vrydag al die pad van Bloemfontein af gekom om hom by te staan. Sy waak pal by sy bed.

• Hardus se vrou, Chelsea en sy sewe maande oue seuntjie, Aiden, bly tans in Amerika, waar sy werksaam is. Die paartjie is in 2014 getroud en is die plan dat Hardus einde Junie by hulle sal aansluit. Mnr. Truter het gesê dat sy rasend van bekommernis oor haar man is.

• Mnr. Truter bedank graag die Witbank Provinsiale Ambulansdiens wat binne minute op die toneel was.

Hy sê ook dankie aan sers. Gert James (Witbank speurdiens) wat op so ‘n professionele manier die verklaring hanteer het.

Nuusflits: Jong man in kop en sy geskiet

Exclusive video of ATM bombings at Midwater Centre

• Me. Van Tonder bedank familie en vriende wat hulle dra deur gebede, oproepe en hulp in hierdie tyd.

Spesiale dank gaan aan haar vennote by Biltcox, Robyn Marsay en Mohammed Sayed, wat die besigheid tans hanteer, terwyl sy haar seun bystaan in die hospitaal.

• Beide die seuns is woonagtig in Middelburg.

• ‘n Poging tot moord saak word ondersoek.

• Mnr. Truter sê na aanleiding van die gate en koeëlpunte wat in die voertuig gekry is, lyk dit of daar met ‘n 9mm pistool op die kinders losgebrand is.

Sien nog foto’s hier!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button