Dr. Kobus Terblanche sê dan so!
Ontspan Middelburg! Hy het dit darem net vir die grap gelees uit ’n báie ou boereraatboek tydens die Witkerk se Stoepstories kuiergeleentheid saam met oud-Springbokkaptein Wynand Claassen.
Wie het geweet dat Wynand, sy broer, George, en ’n maat, Johan van der Merwe, in standerd sewe vanaf Middies se ou Dennekoshuis af met hul fietse na familie op Volksrust gery het? Wynand se pa, George, was desjare die hoof by Hoërskool Middelburg en hy het allerlei interessante staaltjies oor sy dae as kaalvoetseun vertel.
Op pad na Volksrust “het ons moed in ons skoene geval toe die destydse sikloon uit Mosambiek ’n gedeelte van Hendrina tref. Ons moes daardie aand in die gietende reën in ons sweetpakkies langs die Apostoliese Kerk in die mielieland slaap!”
En moenie dink hulle het “vandag se grênd fietse met ratte gehad nie. Dit was sommer gewone trapfietse!”
’n Jaar later besluit Wynand en broer George, dié keer wil hulle Umhlanga (Kwazulu Natal) toe en sleep vriend Pieter Kramer saam.
Hierdie keer het hulle darem tente saamgevat “en die laaste paar kilometer so bietjie gekroek ook. Aan die begin het ons vir almal nee gesê as hulle vir ons geleenthede aangebied het, maar hier teen die einde was ons maar te bly as iemand met ’n bakkie gestop en ons ’n paar kilometer geleentheid gegee het.”
Wie sou kon dink dat die woorde van ’n huilende seuntjie eendag sou waar word. “Ons het grootgeword op Middies se velde, want daar was nie televisie nie.”
Hy was maar nog ’n klein seuntjie toe hy saam met die ouer seuns rugby moes speel. “Hulle het my karnuffel, maar jy hou maar aan met jol.”
Hy vertel van die dag toe hy weer bietjie hardhandig hanteer is “en ek aan die huil gegaan het. Ek was ’n spoilsport en het die enigste bal daar, mý bal, gegryp en gesê ek gaan huistoe, julle mag nie meer met my bal speel nie.
“Terwyl ek so wegstap, sê ek so tussen die trane deur, ‘julle sal nog eendag sien, ek gaan nog Springbokkaptein word!”
Sy Springbokdrome is nog meer wakker gemaak toe hulle in sy pa se 1954 TM300 Dodge gaan kyk het na die Springbokwedstryd teen die All Blacks. “Hy het ons gereeld Loftus en Ellispark toe gevat en dan het ons daar gekuier met ons biltong en ons naartjies!”
Daardie dag in 1960 het sy hart as negejarige erg gebons toe “die mighty All Blacks met hul swart truie en wit nommers verbydraf en uiteindelik die Springbokke in hul groen truie en daardie goue nommers! Dit het iets in my wakker gemaak dat ek wil deel wees daarvan.”
Net daar het hy begin werk aan sy drome. “Ek het my dood gehardloop! Landloop geoefen en die vier en ’n half en ses myl wat my pa ons laat hol het oor Coetzeestraat en die treinspoor tot by skuldbult en die ou vliegveld en terug baie gehardloop.”
Hy het vele staaltjies vertel oor sy dae as Springbokspeler.
“Dit was destyds sommer ’n amateurgame. Ons het R5-noot vir ’n wedstryd gekry en as dit ’n wegwedstryd was, darem ’n R2-noot by!”
Hy onthou die 1981 wedstryd in Nieu-Seeland toe hulle ondergronds onder die pawiljoene moes slaap weens die betogings en hoe koud hulle gekry het.
Spesiale dieet het eers later vir die spelers gekom. “Ons ouens het sommer het ge-carboload met eiers, ’n groot steak en chips en ’n paar biere. Dit moes gehelp het, want met die tweede toets teen die All Blacks het ons met ’n rekordtelling gewen!”
Tyd vir iemand om te vryf vir krampe was daar nie, “en het ons sommer hande vol soutpille gedrink om seker te maak jy kry nié krampe nie!”
• So tussendeur sy staaltjies het dr. Terblanché uit die gevaarlike boereraatboek voorgelees.
Soos die raad vir inflammasie, waar ’n kat vinnig doodgemaak moes word, sy vel haastig afgetrek en op die siek bors gesit moet word (en dan natuurlik elke halfuur herhaal moes word!)
En wou sou kon raai dat jy vlieë moes dooddruk vir ’n splinter in die vinger? Jy smeer dit net op die plek en dan sweer dit vinnig uit!
Vir karkaatjies moes jy ’n swart kat se stert sewe keer daaroor trek, of ’n swanger vrou moes drie keer daaroor vee.
Pitswere word kwansuis genees as jy rol waar ’n hond gerol het.
My persoonlike gunsteling was beslis die raad vir dronkenskap: gooi perdesweet of varkmelk in die wyn. Die persoon sal dit drink, siek word en nooit weer drink nie!
• Meer foto’s sal in die volgende uitgawe van die Get It verskyn.
Raed other stories here:
Elections – Free, fair and peaceful so far
Voting gets underway in 2016 Municipal Elections
Elections 2016: Interview with IEC Assistant manager, Moses Pitso
Send a message to our SMS line 33658 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates. You can also WhatsApp us on this number 079 426 1396
Also check out our Video’s on Youtube daily!
