News

Wie is wie in misdaadgeveg?

Die verwarring rondom wie nou eintlik wie is in die dorp se tweerigtingradio teen-misdaadbrigade het geen perke nie.

Wie is Zello?

Wie is Middelburg 911 GPF?

Wie is die Sektor 3 Radiogroep, Kanonkop Radiogroep, Aerorand Radiogroep, en al die ander wat nié by die GPF wil aansluit nie?

Wie is reg? Wie is verkeerd? Wie besluit?

Volgens die polisie word hande gevat met ieder en elke teenmisdaadgemeenskapsinisiatief.

Dus, of jy nou aan die GPF behoort of nie, jou groep word deur die polisie erken.

Uitlatings deur die GPF voorsitter, Rehana Pilodia, soos dié week op die Gholfsig/Clubville GPF Facebook-groep,

“dat Kanonkop en Sektor 3 se radiogroepe bloot wil aangaan met vigilante bedrywighede,” vervreem dié groepe.

Middelburg 911 GPF voorsitter, mnr. Jacques van Niekerk, het dit Woensdag duidelik gemaak dat, hoewel hulle die GPF se reaksiemag is, hulle geen ander groep in die teenmisdaadstryd ontken nie.

“Mens kan en moet saam werk, want almal het dieselfde doelstelling, om die gemeenskap te beveilig. Middelburg 911 opereer nie in eksklusiewe areas soos die radiogroepe nie, ons dek die hele dorp, hoewel ons lede ook by hul onderskeie GPF sektore en sub-sektore aangesluit het,” verduidelik mnr. Van Niekerk.

Hy klaar verder ook die verwarring rondom Zello en 911 uit: “Zello is ‘n app wat jy aflaai vir ‘n publieke kanaal waarop noodroepe deurgegee kan word aan die Middelburg 911 reaksielede. Sodra jy op die kanaal uitsaai, is jy lid van Middelburg 911 se kanaal.

Dit maak jou egter nié ‘n reaksiemaglid nie, daarvoor word jy streng gekeur.”

Uit die 534 Zello groeplede, is slegs 35 gekeur vir bystand op misdaadtonele. Omdat hulle deel is van die GPF, word hulle as die GPF se reaksiemag geklassifiseer.

Dit gee Middelburg 911 GPF lede egter nie carte blanche vir hulpverlening nie, “as radiogroeplede reeds op ‘n toneel is, waarheen ons toe uitgeroep is, moet ek hulle wegjaag?

Nee! Ons is daar om mekaar se hande te sterk,” sê mnr. Van Niekerk.

Die nuweling op die spreekwoordelike blok, is natuurlik Afriforum, wie die polisie verlede Vrydag amptelik tot die gemeenskapsteenmisdaadkamp verwelkom het.

“Die feit dat me. Pilodia aanhou hamer dat die GPF die enigste inisiatief is wat in polisiewetgewing erken word, is bog. Die wet maak voorsiening vir almal, dis duidelik,” sê Afriforum se Hillel Coetzer.

“Of me. Pilodia dit nou wil erken of nie, as die groepe mekaar op tonele kry, word daar blad geskud, nie horings gemeet nie. Ons is grootmense met een doel voor oë, om misdaad te bekamp, as jy suksesvol is, welgedaan!” sê Coetzer.

Lees ander nuus hier:

Nuusflits: “Belfast inwoner dood na beweerde gesinsgeweld

Vrou met dood gedreig

Pa en seun oorleef ongeluk

Gepeupelreg lei tot moord

Armed robber shot at e’Mhluzi Mall

Conspiracy to rob studio 88

Sikloon is op pad!

Back to top button