Klopdisselboom by Koppiestraat!
Koppiestraat is in volle blom. Die behuisingsprojek bied ’n dak oor die koppe van 39 mense, en meer Wendy-huisies sal binnekort opgerig word, om meer mense in nood te huisves.

Middelburg se mense het oop hande en gereelde skenkings van kos, klere en ander benodighede word opreg waardeer.

Feitlik al die inwoners, naas die 13 pensioenarisse, het werk, en dié wat nie het nie, rus nie op hul louere nie maar maak hondehokke, onderhou die groentetuin en sorg dat alles wat breek, reg gemaak word.

Die behuisingsprojek het in 2011 ontstaan, toe Mary-Ann Brooks en haar gesin, wat in tente langs Krugerdam gebly het, deur die munisipaliteit verjaag is.

Sakeman Johan Lee het die gesin ingeneem op die perseel, en later besluit om die hele erf vrywilliglik te skenk, sodat meer daklose gesinne gehuisves kon word.
Plaaslike besighede het ook hulle deel nagekom om ablusiegeriewe en meer huisvesting te bied.

Alle Koppiestraat inwoners is dit eens – “Dis lekker by Koppiestraat!”.

Enige skenkings, veral vleis, is altyd welkom, en die gemeenskap word genooi om by Koppiestraat te gaan kuier.

Lees meer nuus op die Middelburg Observer webwerf en gaan “Like” ook ons Facebook volg ons ook op Twitter en Instagram
