Valk vrek weens rottegif
'n Swerfvalk het gevrek, net etlike dae nadat hy in 'n tuin gevind is.
Daar is aanvanklik gedink dat hy met ‘n windbuks geskiet is, maar toetse het aan die lig gebring dat hy rottegif ingekry het.
Mnr. Deon Cornelius (van Ubhetyan O Africa) het gesê dat hulle alles in hul vermoë gedoen het by hul rehabilitasiesentrum om die valk te red, maar hy het Woensdagoggend gevrek.
Mnr. André Claassen het op noodgroepe gesê dat die valk met ‘n windbuks geskiet is.
Lees ook: Video – Kat met windbuks geskiet
Hy het die voël omstreeks 07:30 op sy grasperk sien lê en dadelik besef dat daar fout is. Die valk het snaaks na een kant toe gelê en dit het vir hom gelyk of hy geskiet is.
Hy het oral navraag gedoen wie dalk kan help, waarop mnr. Cornelius Saterdagmiddag die valk kom haal het.
Mnr. Cornelius sê hy het die valk laat ondersoek deur dr. Peter Caldwill, ‘n bekende veearts van Pretoria.
Dr. Caldwill het die hele lyf, pote en vlerke nagegaan en geen skietwonde gevind nie. Alle toetse het gewys dat die valk gif ingekry het.
Lees ook: Foto’s – Natuurliefhebbers sal nie hieroor brom nie
Die swerfvalk is dadelik medikasie ingegee teen gif en ook op aarvoeding gesit. Mnr. Cornelius sê die bloedtoetsuitslae het Dinsdagmiddag gewys dat die valk rottegif ingekry het.
Teen laat Dinsdag het die valk begin eet en, alhoewel baie swak, was daar hoop dat hy dit sou oorleef en hulle hom dalk later weer kon loslaat. Die valk het egter Woensdagoggend gevrek.
• Mnr. Cornelius sê dat hulle ook ‘n langkuifarend by Ubhetyan ingekry het wat by ‘n myn in die eMalahleni omgewing gif ingekry het.
Van die val het die voël egter sy vlerk beseer. Die vlerk het later self uitgedroog en moes geamputeer word. Hulle het daarna besluit om die arend nie verder te laat ly nie en het die voël uitgesit.
• Mnr. Cornelius sê Ubhetyan kry gereeld uile uit die omgewing in wat mense inbring. In die meeste gevalle is dit klein uiltjies wat uit neste val.
