Noodspanne jaag van ongeluk na ongeluk
Noodspanne het van ongeluk na ongeluk gejaag vanaf Saterdag tot Maandag.
•Sewe mense is beseer nadat ’n taxi Vrydag omstreeks 23:00 in Bothasberg omgeslaan het.
•Saterdag omstreeks 21:05 het Kanonkop inwoners ’n harde slag gehoor en daaroor uitgevra op noodgroepe.
Net daarna het inligting deurgekom dat ’n voertuig gerol het in Sipresstraat. Met die noodddienste se aankoms op die toneel, was die bestuurder van die voertuig skoonveld.
•Sondag om 02:30 het ’n voertuig gerol in Oranjestraat. Die vrou het gelukkig nie ernstige beserings opgedoen nie.

•Om 17:00 is talle ambulanse van Middelburg, eMalahleni en Hendrina uitgeroep na ’n ongeluk op die N11, Hendrinapad, waar ’n trok, waarop ’n sokkerspan gelaai was, omgeslaan het.
Agterop was 22 spelers en in die kajuit was die bestuurder en nog twee passasiers. ’n Totaal van 21 pasiënte, waarvan drie ernstig, is met ambulanse afgevoer na Middelburg Provinsiale- en Life Midmed Hospitaal.
Die bestuurder van die trok is op die toneel gearresteer vir dronkbestuur.
•Net ’n uur later moes paramedici weer hulp verleen tydens ’n botsing in Walter Sisulustraat tussen die Van der Merwestraat kruising en die Middelburg Care Village.
Tien werknemers van ’n sekuriteitsfirma, wat in ’n bussie was, is met ligte beserings na die Life Midmed Hospitaal afgevoer.

Een van die vier insittendes in die VW Polo het kop-, elmboog en inwendige beserings opgedoen en is ook Life Midmed Hospitaal toe geneem. Die ander drie, waaronder ’n driejarige kind, is vir skok en ligte beserings behandel.
•Kort voor 20:00 is daar uitgejaag na ’n trompop botsing tussen ’n BMW en ’n bakkie op die Verdoornstraatbrug. Die pad was vir meer as ’n uur gesluit terwyl die brandweer die bestuurder van die BMW met die kake van lewe uit die voertuig moes sny.
Die man is met ’n ernstige beenbesering (die been het onder die paneelbord vasgesit) na die Life Midmed Hospitaal afgevoer.
•Maandag omstreeks 14:45 het ’n trok met ’n vrag mielies in Kranspoort omgeslaan.

Alhoewel verkeer vertraag is omdat die een baan gesluit was terwyl spanne opruimingswerk gedoen en dosyne mense sakke vol mielies opgetel het, is die poort egter nie gesluit nie.
Die bestuurder is per ambulans hospitaal toe geneem, maar het nie ernstige beserings opgedoen nie.
Lees ook:
Net R500 borg vir vermeende plaasaanvallers
Haweloses die teiken van sadiste
Mans in glimbaadjies agtervolg vrou
Soek jy nuus op ’n drafstap?
Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.
“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.
Volg ons YouTube kanaal.
Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry
Het julle vir ons ’n storie?
Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za
