News

Veediefstal verdagtes wat beeste op waentjie prop verskyn in hof

Die vier verdagtes wat deur boere in die Belfast en Dullstroom omgewing vasgetrek is verlede week, het in die hof verskyn.

Belfast polisiewoordvoerder, sers. KC McDonald, het bevestig dat Madconald Mtsoane (21), Vusi Nkosi (25), Titus Mankge (31) en Titus Mkhonza (26) in die hof verskyn het.

Volgens sers. McDonald is Nkosi en Mkhonza op R1 000 borg elk vrygelaat, terwyl Mtsoane en Mankge se borg teengestaan is, omdat hulle hangende sake teen hul het.
Dit beteken dat beide Mtsoane en Mankge hierdie week formeel om borg sal aansoek doen in die Belfast Landdroshof.

Lees ook: Prokureur en ander veediefstal verdagtes geïdentifiseer

Boere het die vier verdagtes vasgetrek, nadat twee bakkies met sleepwaens vroegoggend op ’n grondpad opgemerk is. ’n Mazda bakkie is afgetrek terwyl ’n Isuzu bakkie sy waentjie afgehak en weggejaag het. Hy is later in ’n padblokkade voorgekeer.

Drie van die verdagtes is op die toneel gearresteer, terwyl ’n vierde verdagte, wat boere beweer hulle herken het, weggehardloop het.
Hy is egter later by ’n vendusie in Belfast aangekeer.

Lees ook: Koeie wreed doodgetrap na veediewe hulle saam op waentjie druk

Drie van die agt beeste wat in die Badfontein omgewing gesteel is, is agterop twee klein waentjies geforseer. Dit het veroorsaak dat van die koeie mekaar doodgetrap het en ander moes op die toneel vankant gemaak word.

Boere wat by die voorval betrokke was, sê dat van die verdagtes dieselfde mense is wat in April in Nelspruit voorgekeer is. Dit nadat beeste in Belfast gesteel en agterin ’n Mercedes Vito paneelwa gedruk is. Die paneelwa het net buite Nelspruit sonder brandstof gaan staan en is deur ’n oplettende boer wat patrollie gery het, opgemerk.

Sers. McDonald het gesê dat alhoewel sy kan bevestig dat beide Mtsoane en Mankge hangende sake teen hul het, sy nie kan sê of dit verband hou met die veediefstal in April nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button