News

Rottweilers ‘wat soos kinders in huis is’ vergiftig

Twee pragtige rottweilers is laasnag in Spioenkopstraat vergiftig.

Die Kruger gesin het omstreeks 02:00 gehoor die honde blaf, maar gedink daar is iemand wat in die straat verbyloop.

Mnr. Gert Kruger sê hy staan altyd 03:00 op en roep so by 03:30 sy twee honde, Jurgens (reun) en Baba (teef). Hy los sy motorhuis effens oop sodat hulle daar kan slaap.

Hulle het egter nie aangehardloop gekom soos gewoonlik nie en hy het met sy flits na hulle begin soek en hulle kort daarna gevind waar hulle gevrek het. Dit is na alle waarskynlikheid weer Temik wat gebruik is om die honde te vergiftig.

Mnr. Kruger sê die booswigte het die hek effens oopgeskuif, maar hy vermis niks uit sy motorhuis nie. “Die motorfietse en al die ander artikels is nog daar. Ek sal maar van nou af alles gesluit moet hou!”

•Senior inspekteur Petro Oberholzer (bestuurder, Middelburg DBV) sê dat mense hul diere in die huis, of agter in hul erwe of in hul motorhuise in die nag moet hou om die vergiftigings deur die loop van die nag te voorkom.

Lees ook: Honde vergiftig vir motorfiets

•In bykans al die gevalle waar honde vergiftig word, volg daar dieselfde nag of ’n dag of wat later diefstalle van motorfietse of inbrake.

•Met die meeste plaaslike hondevergiftigings is Temik (ook Two-Stepgif genoem weens die vinnige werking daarvan) gebruik om die honde te vergiftig.

•Carte Blanche het in ’n uitsending gesê dat daar tot 1 000 honde per week in Suid-Afrika vergiftig word.

•Die gebruik van Temik is onwettig, maar dit is steeds vrylik op straat beskikbaar.

Tydens ’n ondersoek deur www.mobserver.co.za het ’n verteenwoordiger ingegaan by ’n taxistaanplek in die dorp en dadelik vir R20 van hierdie dodelike gif te koop gekry.

•Dr. Gerhard Verdoorn (Direkteur van die Griffon Gifsentrum en konsultant vir die Landbou Chemiese Industrie en AVCSA – Association of Vetenerian and Crops SA) het tydens ’n vorige onderhoud vertel hoe giftig Temik is.

Jurgens die pragtige rottweilerreun wat laasnag in Spioenkopstraat (Dennesig) vergiftig is.

’n Teelepel vol van die korrelrige gif kan ’n renoster doodmaak en ’n tiende daarvan ’n man van 80kg laat sterf.

Hy het gemeld dat, buiten die 1 000 honde wat per jaar vrek weens Temik vergiftigings, daar sowat 100 mense ook aan Alidcarb-vermengings (wat in Temik ook voorkom) doodgaan.
Bayer CropScience het in 2011 opgehou om Temik te vervaardig en alle voorraad was teen einde November uitverkoop.

In Mei 2012 is die registrasie van Temik teruggetrek. Temik is hoofsaaklik gebruik met plaagbeheer vir aartappelboere, maar is gereguleer. Slegs geregistreerde plaagbeheermaatskappye kon dit bekom en boere moes spesiale opleiding kry om met dié gif te werk.

Lees ook: Vyf honde in een nag vergiftig

Dr. Verdoorn het in Julie 2010 ’n verslag aan die sekretaris van die Polisie voorgelê, waarin hy die gevare van Temik, en veral Aldicarb (die formulasie wat in Temik voorkom), verduidelik.

Die meeste van die korrelrige gif wat deesdae gebruik word met die vergiftiging van honde, is Aldicarb-formulasies en nie noodwendig Temik nie. Alle Aldicarb-formulasies is egter ewe dodelik – “10 keer meer dodelik as strignien!” (Strignien staan bekend as wolwegif).

Dr. Verdoorn se verslag sê dat die vergiftiging van diere, hetsy troeteldiere of plaasdiere en selfs wild, alles deel is van ’n baie groter misdaadsirkel.
Die gebruik van Temik en ander Aldicarb-formulasies is onwettig vir landbougebruik, maar daar is steeds nie wetgewing daaroor nie.

Lees ook: Vier honde in groenkol vergiftig

Hierdie Aldicarb formulasies word van oral af die land ingesmokkel en is maklik by smouse, soos in Middelburg by taxistaanplekke, beskikbaar. “Die hele misdaadsindikaat begin wanneer die dier die gif ingekry het. Daarna het die misdadigers makliker toegang tot die eiendom en volg inbrake, kardiefstalle, moorde en verkragtings!” het dr. Verdoorn gesê.

Die middel is dodelik en vinnigwerkend. ’n Persoon wat Aldicarb inkry kan in onder ’n uur sterf. “Baie mense pleeg met Aldicarb formulasies selfmoord.”

Hy het destyds vertel van drie voorvalle waar jong kinders onder agt jaar Aldicarb ingekry het nadat hulle gif wat versteek was in vleis vir honde, geëet het. Twee van die drie kinders het gesterf. ’n Klein hondjie wat ’n groot dosis Aldicarb inkry kan binne vyf minute vrek en ’n groot hond binne 12 minute.

Dr. Verdoorn veg al lank vir wetgewing. Hy het in 2014 gesê dat hy weet van een persoon in Heildelberg wat ’n opgeskorte vonnis opgelê is. Dit was egter net omdat hy die Aldicarb-formulasie verkoop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button