News

Greace – vermaak vir elkeen!

HTS Middelburg se revuegroep het vanjaar Greace, wat die gehoor aan die sing en dans gehad het, op die planke gebring!

Met verskeie vertonings wat hierdie week in die skoolsaal gehou is, is daar natuurlik ’n staaltjie of twee te vertel wat beslis in elke revuelid se onthou-boks gebêre sal word…

Me. Leana Pelser, wat vir die choreografie verantwoordelik was, lag heerlik oor ’n paar gebeure wanneer sy aan vanjaar se revue terugdink. Bo aan die lys is die Drie Musketeers, alias juffrouens Renéé Swanepoel, Monzinnel de Beer en Daleen van Jaarsveld, wat des ondanks alle geure en volksvreemde objekte, daarin kon slaag om die kleurvolste kostuums vir die bykans 80 revuelede by die China Mall in Johannesburg te ‘ontdek’.

Die kreatiewe revuegroep het met verskeie byname vorendag gekom: Christiaan Borcherds is Plank gedoop (dit het glo iets met sy dansstyl te make, alhoewel sy besonderse ryk stem hom eerder ’n plek in die revue verseker het).

Me. Maretha van Jaarsveldt, mnr. Hoppie van Jaarsveldt se wederhelfte, moes vrede maak met haar eretitel as juffrou Hoppie en het daarin geslaag om die openingslied te beredder nadat sy die ‘bevange’, I love it liedjie voorgestel het in plaas van Dik in Desember (tot juffrou Nieuwoudt se verligting)!

Uniek aan die Rooies se eiesoortige Greace, is die gebruik van media deur middel van televisieskerms aan die kant van die verhoog wat as ‘storievertellers’ gedien het en waarop daar onder meer die twee verliefdes, Santie en Danie, se teksboodskappe en selfies gewys is. Juffrou Leana vertel dat die opneem van hierdie videomateriaal groot pret was!

Saam met die lag was daar ook spanningsvolle oomblikke soos Dené Lindeque-Fouché, wat die hoofrol van Santie vertolk het, se ernstige besering wat juffrou Leana slapelose nagte besorg het! Suné van der Merwe het ook met haar geskeurde ligamente by elke vertoning haar staal, oftewel dansbewegings, gewys.

Die Rooies se unieke weergawe van Greace het nie net die dak gelig nie, maar ook ’n paar nuwe talente aan die lig gebring. Alhoewel Ricardo Correia ’n geswore rugbyheld is, het hy sy debuut as Danie, Santie se kêrel in dié verhoogstuk, gemaak. Die koshuisseuns van Douw Smith het ook hul plek as ‘agtergrondsangers’ gedurende die opnames volgestaan, aangesien ’n groot gedeelte van die revuegroep ten tye van die opnames by sport betrokke was.

•HTS Middelburg bedank elke revuelid, ouer en personeellid wat talle laatnagte deurgeworstel en naweke en vakansies opgeoffer het om van hierdie verhoogstuk ’n sukses te maak!

In die woorde van Hennie Aucamp:

“In krisistye is kultuur geen luukse nie, maar die hoogste vorm van selfbehoud. Want kultuur staan vir interne orde, en interne orde is die fondament van alle beskawing”. Vanjaar se revue, Greace, was vir seker ‘n verhoogstuk reg in die kraal van oud en jonk, kultuurdier én sportliefhebber!

Back to top button