News

‘Swanger vrou’ ’n inbreker

’n Man wat homself voorgedoen het as ’n werker en die vrou by hom voorgestel het as sy “swanger vrou” het Vrydag by ’n meenthuis by die Aerovilla kompleks met duisende rande se juwele weggekom.

“Dit is so hartseer, daardie mense het net my juwele gevat en nie gedink wat hulle aan my doen nie,” het me. Ria van Zyl hartseer gesê.

Sy was weg vir die naweek en het haar waardevolle juwele in ’n laai gesit. “Ek het nie gedink om dit in die kluis te sit nie, want ek bly al 16 jaar in die kompleks en daar was nog nooit probleme nie.”

Me. Van Zyl sê een van haar bure (wat anoniem wil bly) het tussen 12:00 en 13:00 beweging by haar meenthuis gesien en nader gestap.
’n Man en ’n vrou was in die erf en sy het vir hulle gevra wat hulle daar soek.

Die man het gesê dat hy een van die werkers is wat aan Aerovilla se voorste hek werk. Hy het gesê sy “swanger vrou” wil nie soos hy buk om by die kraan water te drink nie.

Die buurvrou het die “ordentlike man en vrou” jammer gekry en saam met hulle gestap na een van die ander meenthuise, waar sy ’n huishulp gevra het om vir die “swanger vrou” ’n glas water te gee.

Lees ook: Koevoetbende slaan toe in Aerorand

Hulle het daarna in ’n wit voertuig geklim en gery.

Pas nadat die twee weg is, het dit haar getref dat iets nie pluis is nie en gehardloop na me. Van Zyl se huis. Sy het gesien dat me. Van Zyl se kleinhekkie, veiligheidshek en voordeur oopgebreek is.
Me. Van Zyl sê hulle het die veiligheidshek uit die muur gebreek en ook die voordeur oopgebreek. Die moontlikheid bestaan dat die inbrekers ’n koevoet gebruik het.

In die huis het sy ’n handskoen gekry wat die inbrekers in die kas, waar haar televisie gestaan het, ingedruk het. Dit lyk vir haar soos ’n styfpassende tuinhandskoen.
Die booswigte het weggekom met duisende rande se juwele en haar televisie.

•Ander inwoners het later vir haar gesê dat hulle die voertuig op en af in die kompleks sien ry het. Party het gesê dit is ’n wit Volvo en ander het gesê dit was ’n wit VW Polo.

“Hulle het natuurlik rondgekyk en gesien dit is stil by my meenthuis en hul kans waargeneem. Die persoon wat by die hek was, was net ’n oomblik nie daar nie en het hulle ingeglip waar die inwoners moes inry, terwyl daar aan die hek gewerk is.”

•Een van die ringe wat gesteel is tydens die inbraak, was ’n trouring wat me. Van Zyl se man, Cas, vir haar gegee het toe hulle weer hul huweliksbeloftes bevestig het op hul 25ste huweliksherdenking.

Lees ook: Inbreker se nommerplaat op CCTV videomateriaal gekry

Mnr. Van Zyl is 17 jaar gelede oorlede nadat hy gaan draf en inmekaar gesak het.

“Die waarde van die juwele is nie vir my belangrik nie, dit gaan oor die sentiment, want hy het alles met soveel liefde vir my gegee.”

•Die laaste twee weke was daar talle inbrake in Aerorand.
Tydens ’n inbraak by Pilansbergstraat is ’n wit Volvo op CCTV Videomateriaal vasgevang.

•’n Paar dae later is daar ingebreek by ’n woonstel in Hoekbergstraat en, buiten ’n televisie, skootrekenaars, handsakke en klerasie, is ook oorskietvleis van ’n braai die vorige aand gesteel.

•Die vorige week is ’n verdagte in ’n erf op die hoek van Chapmans- en Cathedral Peakstraat vasgetrek, maar is later laat gaan.

•Daar is ook ingebreek by Kransbergstraat en ’n televisie en ander huisware is gesteel.

Back to top button