News

Spoorlyn stuk vir stuk weggedra

“Tussen treine, tussen stasies, is daar basies, nie meer spore...”

Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock sal hulle liriek moet verander van die liedjie “Tussen treine” want een van die dae gaan daar nie meer spoorlyne in die land oor wees nie.

Die spoorlyn tussen Wapadskloof en Stoffberg bestaan so te sê nie meer nie, te danke aan ‘n sindikaat wat die stawe in twee meterlange stukke opsny en dan in trokke wegry.

Jan Alleman sou dink dat dit nie moontlik is om ‘n trokvrag vol stawe sommer langs die spoorlyn op te sny en te laai sonder dat jy in die sop kom nie. Vertel dit egter vir ‘n groep diewe wat danksy hul laksheid, hul buit kwyt is.

Andre Steele, wat boer in die Stoffberg omgewing, is vroegoggend deur een van sy werkers gebel oor ‘n vreemde trok wat op hul plaas staan. Die werker het hom gevra om soontoe te kom, maar gemaan dat hy versigtig moet wees omdat daar twee mense is wat tussen bome naby die trok wegkruip.

Mnr. Steele sê dat hy by die mense gestop het om te vra hoekom hul trok op sy plaas staan.

“Hulle het vir my gesê dat hulle op die treinspoor werk en vir ‘n insleepdiens wag omdat hulle trok gebreek het,” vertel mnr. Steele. Hy het hulle toe vertel dat hy reeds die polisie gebel het, omdat hulle sy plaas sonder toestemming betree het.

Hy het gesien dat die bak vol opgesnyde spoorstawe lê. Die twee mans waarmee hy gepraat het, het intussen gevlug.

Een van die mans is later tussen die buurman se beeste gevang. Hy het beweer dat hy die bestuurder van die trok is en gekaap is.

Die trok se nommerplaat het positief getoets aan iemand wat in Bethal woon. Volgens die sisteem was dit nie as gesteel aangemeld nie. Die Laersdrift polisie asook Transnet sekuriteit was op die toneel. Daar was na beraming 160 opgesnyde spoorstawe in die trok.

Daar is weinig spoorlyn oor tussen Pan en Stoffberg stasies. Boere op die toneel vermoed dat die trok onklaar geraak het teen die bult omdat die vrag spoorstawe te swaar was.

Back to top button