News

‘Condom’ loop sy rieme styf

Condom is gevang! ’n Gesoekte misdadiger met die aliasnaam, “Condom” het sy rieme styfgeloop toe hy op heterdaad betrap is met gesteelde draad, ’n kos koelsak en selfone.

Inwoners van Belfast het op hul noodgroep die polisie geloof vir die arrestasie.

“Ek het nie eers agtergekom wat alles gesteel is, voor die polisie my gebel en al my goed aan my terugbesorg is nie,” vertel me. Rachel van den Berg, ’n onderwyser van Belfast Akademie.

“Condom”, wat sers. KC McDonald (Belfast Polisie mediawoordvoerder) as ’n “gesoekte verdagte” beskryf het, is Woensdagoggend vasgetrek by ’n huis in Siyathuthuka. Sipho Masango het vanoggend in die hof op Belfast verskyn. Borg is geweier en die saak is uitgestel na volgende Vrydag.

’n Rol gesteelde draad is teruggevind. Nadat die polisie die verdagte se huis deursoek het, het hulle ook ’n koelsak gekry met drie selfone, ’n beursie en juwele daarin.

Also read: Fake notes in Belfast leads to two arrests

Me. Van den Berg, wat die einde van die jaar aftree, sê sy het Dinsdagaand nie dadelik agtergekom daar is by haar ingebreek nie. Sy is Bybelstudie toe en het omstreeks 19:40 tuisgekom by haar huis in Boultstraat. “Ek het nog op die radio inroep om 19:45 gesê alles is reg.”

Vyf minute later het sy agtergekom haar selfone is weg en het sy die huis deursoek. “My een ou foontjie gaan twee keer per dag agtuur af sodat ek insulien kan spuit en ek kon hulle nie in die hande kry nie.”

In die sitkamer het sy gesien die diefwering is weggebuig en het vir hulp per noodradio geroep.

“Ek het nie gedink ek sal ooit weer my fone sien nie. Woensdagoggend het iemand my laat weet dat die polisie ’n foto van ’n selfoon se skerm geneem en dit rondgestuur het om die eienaar van die fone te soek. Dit was sowaar myne!”

Die toneel wat die Du Plessis egpaar begroet het toe hulle in hul huis in Belfast instap.

Met haar aankoms by die polisie het sy gesien dat daar talle artikels is wat sy op daardie stadium nog nie eers vermis het nie.

Haar kossak, waarin sy as diabeet haar dag se kos pak, is deur die booswig gebruik om haar beursie, selfone en ander juwele, soos borsspelde, in te gooi. Daar was ook ’n halfgeëte sjokolade in die sak.

“Hy het twee van die agt sjokolades gevat, wat ek gekoop het vir personeel wat my sou help Woensdagaand by die prysuitdeling.”

Haar beursie met kaarte daarin is ook in die koelsakkie gekry, maar die sowat R900 kontant daarin is weg.

•Net etlike dae vantevore is daar ingebreek by mnr. en me. Johan en Hessie du Plessis se huis in Dugganstraat. Me. Du Plessis is ook ’n onderwyser by Belfast Akademie.

Also read: Victims killed execution style

Me. Du Plessis sê hulle het byna die inbreker in hul huis betrap toe hulle Vrydagaand omstreeks 18:30 tuisgekom het. Met hul tuiskoms het die alarm geskree en toe hulle by die hek ingaan, het hulle die persoon by die venster sien uitspring, waarna hy oor die muur verdwyn het.

“Hulle het goeie vingerafdrukke gekry en ek is seker dis ook Condom se werk gewees, want op die foto wat oral versprei is van hom nadat hy gearresteer is, het hy dieselfde klere aan as die een wat weggehol het.”

Ook in hulle geval het die inbreker sy hand deur die klein boonste venstertjie gedruk en die groot venster oopgemaak. Die diefwering is met ’n baksteen oopgekap en opgedruk.

Lees ook: Vee brand dood in helvuur – trok se spieëls smelt

Me. Du Plessis sê die dief het haar handsak in die huis gevat en daarin gepak wat hy kon. Hulle vermis, buiten die handsak-inhoud, ook ’n skootrekenaar, ’n bystandbattery (Powerbank), herlaaiers en ’n horlosie.

•Die inbreker het ’n bakkie met viskoekies in die yskas gevat, maar het dit naby die venster in die huis laat val, terwyl hy besig was om weer deur die venster uit te klim.

•Sers. McDonald het gemeld dat die verdagte gesoek was vir talle inbrake en diefstalsake in die Belfast omgewing.

Sy het bevestig dat hulle elektroniese ware soos selfone en ’n sak teruggevind het.

“Die polisie wil by die gemeenskap pleit om nie gesteelde items by kriminele te koop nie. Kriminele hou aan steel omdat daar ’n mark daarvoor is, want mense hou aan om dit te koop.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button