Ma krap kop oor slaapkamerdeur geluide
Daar het vroeg verlede Vrydagoggend vreemde dinge by ’n huis in Mineralia gebeur. Iemand het vermoedelik aan die slaapkamerdeur, waarbinne ’n ma en dogter hulself toegesluit het, gepeuter en toe weer soos mis voor die son verdwyn.
Natasha Henning vertel dat sy en haar dogtertjie (9) in die vroeë oggendure wakker geword het van geluide by hul slaapkamer deur. Die deur was gesluit. Die geluide het kort daarna opgehou en ma en dogter het verder geslaap.
Mev. Henning sê dat sy die volgende oggend ondersoek ingestel het, maar niks verkeerd gekry het nie. Dit is eers toe sy haar slaapkamerdeur van nader beskou het wat sy iets vreemds opgemerk het.

Daar was ’n duidelike merk by die slot van hoe iemand met vermoedelik ’n skroewedraaier aan die deur gepeuter het. Die verf by waar die deur in die skanier sluit was ook af gekrap. Van die skroewe by die deur se skaniere lyk asof hulle uit en toe weer ingedraai is en die deur is op een plek beskadig.
Mev. Henning sê dat sy kon sien dat iemand die verf stukkies op die teëls voor die deur probeer wegvee het, maar dat sy met haar vinger nog van die verfstukkies in die gleuwe van die teëls gekry het.
Daar is geen teken dat iemand in haar huis ingebreek het nie en sy vermis geen huishoudelike items nie. Sy sê dat die voorval haar stomgeslaan laat en dat sy met geen logiese verduideliking daarvoor vorendag kan kom nie.
Mev. Henning sê dat sy genoodsaak is om die sekuriteit in haar huis op te skerp deur al die deure se slotte te vervang asook ekstra veiligheidshekke en diefwering aan te bring.
