Raspolitiek gaan DA by stembus knou
Vertroue in die Demokratiese Alliansie in Mpumalanga het nog ’n groot knou gekry met die onthulling van die party se voormalige provinsiale kommunikasiehoof, dat daar ’n fynbeplande veldtog deur die huidige leier, Jane Sithole, gevoer is om ontslae te raak van haar voorganger, oud Middelburger, mnr. Anthony Benadie.
Benadie wat deesdae die DA se Wes-Kaapse direkteur van verkiesingveldtogte is, is sak en pak weg uit die dorp weens toenemende isolasie deur die DA leierskap wat hom nie net die ondervoorsitterskap van die DA se federale raad gekos het nie, maar ook sy restaurant laat vou het.
Die bom het Sondag om Sithole se kop gebars, terwyl die DA in Johannesburg saamgekom het vir die party se federale kongres waartydens Helen Zillie as voorsitter verkies is.
Benadie sê dat hy reeds in 2015 bewus was van die smeerveldtog wat agter die skerms teen hom gevoer is.
Die smeerveldtog was nie net daarop gemik om Benadie as ras-diskriminerend uit te beeld nie, maar ook om sy besigheid skade te doen, nadat DA ampsdraers skriftelik deur die provinsiale bestuur verbied is om die Dros restaurant in Middelburg, wat Benadie ’n tydlank besit het, te ondersteun.
Lees ook: Mmusi Maimane steps down as DA leader, Athol Trollip resigns as DA Federal Chair
Die skade was so enorm dat hy uit die DA bedank het en huise moes verkoop om te oorleef.
Die skokbewerings het aan die lig gekom nadat Dumisile Masuku, die voormalige provinsiale kommuniskasiehoof, afgedank is vir haar rol in die smeerveldtog teen Benadie wat Masuku in ’n skriftelike klag na haar afdanking beweer deur Sithole gedryf is.
’n Dissiplinêre komitee het Masuku die trekpas gegee nadat bevind is dat sy deel was van ’n smeerveldtog teen Benadie, dat sy vertroulike informasie oor Benadie gelek het om sy beeld skade te doen en dat sy glo vervalste verkiesingsveldtog verslae tydens die onlangse nasionale verkiesings ingedien het.
Masuku en Sithole was hand om die blaas en Masuku beweer dat sy selfs vir Sithole per geleentheid brandstofgeld geleen het.
Die vriendskap het versuur to Masuku se naam opgeduik het tydens ’n gefnuikte poging om ’n stem van wantroue teen Sithole te bring.
Lees ook: DA leier roep halt
Klankopnames van vergaderings tussen konkelende ampsdraers wat van Sithole ontslae wou raak, is aan haar gelek, waarna die provinsiale DA navorser, Mzukisi Dyantyi, afgedank is in Julie.
Masuku sê dat die enigste komplot waarby sy betrek was, dié van Sithole was om Benadie te diskrediteer.
Sy sê dat Sithole opdrag gegee het dat verkiesingsverslae gemanipuleer word om haar betrokkenheid in stemwerwingsveldtogte op die grond te oordryf.
Die DA het nie net hul amptelike opposisie status in die wetgewer prysgegee tydens die laaste verkiesings nie, maar ook groot steun teen die VF+ verloor weens sy betrokkenheid by talle rasbelaaide optogte teen onder meer die doodskistwee, Willem Oosthuizen en Theo Jackson.
Benadie het Woensdag gesê dat hy verheug is oor Masuku se inkriminerende erkenning en dat hy Zille skriftelik versoek het om die bewerings deeglik deur die federale raad te laat ondersoek.
“Ek het ’n naam, ek het ’n reputasie, my integriteit is geskaad en my gesin moes daaronder ly, ek gaan die saak nie daar laat nie,” het hy beslis gesê.
Sithole wou nie kommentaar lewer nie.
