
Skoleprysuitdelings is elke jaar afgesluit met ’n ete by Spur.
Daar het ons die hoogtepunte bespreek en die laagtepuntvlammetjies gevat en hulle in kragsentrales verander, soos Gert van Zyl sou sê.
Natuurlik is daar ook soms gegiggel oor sekere toekennings.
’n Naweek op Sabie is altyd afgesluit met ’n hot rock by Spur. Sabie is nie verlaat voor ’n Spurbesoek nie.
Ma het so 55 jaar gelede ’n Kersvader uitrusting gekoop, ’n kussingsloop oor haar skouer gegooi met geskenke in en met ’n fiets aangestap gekom.
Dit was die begin van ’n tradisie wat ons gesin jaar na jaar saamsnoer, baie laat lag, lekker eet en geskenkverrassings oplewer.
Een jaar was die tradisie amper daarmee heen, maar dit was so al asof Iemand die liefde, omgee en deernis waarmee die kersboom begin is, nie kon stop nie.
Ma se Kersboom
Sewe jaar gelede, met die tweeling kleinkinders se geboorte, is verrassings saamgevat met Johannesburg kuiers.
Nou hardloop hulle blinkoog en opgewonde kar toe met ’n: “Het ons verrassings gekry?”
Joernaliste kry daagliks adrenalienverrassings – sommige wat die lagspiere prikkel, ander wat die hartkloppings opjaag.

Het Gerrie Marx op sy lughawetrollie afgeneem en gevra: “Wys vir my hoe bly is jy, steek jou duime in die lug!” Gerrie het my verbaas aangekyk met ’n “maar oom ek het nie duime nie!”
Op Loftus Versfeld vir Krynauw en Johan Otto afgeneem, waar hulle Conrad Breytenbach optel. Toe die foto ontwikkel word, het ’n klein seuntjie tussen die twee groot slotte se bene deurgeloer.
Verrassing!
Word Vrydag verras met ’n speelapie wat aan die kantoor se deurkosyn hang. Met die oopstoot is dit: “Verrassing..!”
Een van daardie oomblikke waar jy tot stilte geskok word, oopmond staan, sodat dit wat jou oë nie glo nie en na die brein stuur, verwerk kan word.
Verrassing!
Honderde kleurvolle teddiebere begroet my; wurms, wolf en rooikappie, beertjies, poppies, ’n see van kleur.
Die redaksie word geroep om te kom kyk, die uitlegmeisies, die proefleser, die advertensie vroue, die administratiewe mense, OH Frewin se vroue…almal snak na hulle asem…
…almal deel in die vreugde.
Dis heerlike Lente!
Soos wat Ma 55 jaar terug ’n kersboom begin het, wat oor die jare vir soveel liefde en omgee gesorg het, bring een van die teddies later daardie oggend vreugde vir ’n siek kind.
“Pay it forward!”.
Dankie Lente…
