Drie honde laasnag in Middelburg vergiftig
“Ons moet nou net bid dat die Here ons sal beskerm.”

Vir die eerste keer sedert die vergiftigings in Middelburg etlike jare gelede begin het, is daar nou ook honde in Clubville (Hospitaalstraat) vergiftig.
“Toe ek vanoggend opgestaan het, is dit die laaste ding wat ek verwag het. Ek het my gordyn oopgeskuif en gesien my veertienjarige Sokkies lê dood op die gras. Ek het gedog sy het ’n hartaanval gehad.”
Die oomblik toe sy buite kom, het sy egter die ander twee honde, Buks (hul elfjaaroue bulterriër) en Jasmin (drie jaar oue Yorkshire Terriër) ook gekry.
Me. Barnard sê die booswigte wou duidelik iets kom steel, want sy het oral tekens gekry dat hulle in die erf was.

Nadat die honde vergiftig is, het die boewe die palissade heining se skerp punte afgebreek en in die erf gegooi. Daarna het hulle die hekmotor probeer breek, maar kon hom nie heeltemal buite aksie stel nie.

Me. Barnard het duidelike voetspore in die erf gekry, asook die merke van ’n voertuig net buite die hek.

“Hierdie mense het geen gevoel nie, hulle het nie ’n saak met jou privaatheid of jou diere nie.”
Sy was baie hartseer oor haar honde wat vergiftig is en was bekommerd oor hul veiligheid noudat hul honde nie daar is nie.
