News

Rower probeer deur oopbreek met wapen – polisie het nie voertuig

’n Vrou moes hardloop om te gaan bel vir hulp, terwyl sy magteloos moes toekyk hoe ’n rower met ’n wapen, wat soos ’n haelgeweer gelyk het, haar Trellidoor probeer oopbreek.

Me. Annique Chawner is omstreeks 05:30 deur haar Yorkshire hondjie by hul huis in Jeppestraat (Mineralia) gewek.

“Die hond het geweldig geblaf en bo-op my kom spring dat ek moes wakker word.”

Me. Chawner het iets gehoor en kombuis toe gestap. Deur die kombuisvenster het sy gesien dat drie booswigte reeds in hul onthaalarea, wat verbind is met die kombuis, is. Hulle het ’n venster in die onthaalarea oopforseer en ingeklim.

Lees ook: Drie honde vergiftig

Een van die boewe het bo-op haar man se motorfiets gesit. Die ander het ’n Jeepwiel na buite gedra en die derde een was besig om met ’n geweer die veiligheidshek, wat toegang bied na haar kombuis, te probeer oopforseer.

Me. Chawner het omgespring, kamer toe gehardloop en die polisie gebel.

“Die persoon wat die telefoon geantwoord het, het die hele tyd gesê hy kan my nie hoor nie. Toe hy my uiteindelik kon hoor, het ek vir hom gesê hulle is besig om by ons in te breek. Hy het egter gesê hulle is besig om skofte te ruil en daar is nie ’n voertuig beskikbaar om na my toe te kom nie.”

Me. Chawner het die foon doodgedruk en dadelik op Zello ingeroep. “Die noodgroeplede was binne twee minute daar, maar toe was die inbrekers reeds weg.”
Sy vermoed die inbrekers het gehoor toe sy kamer toe hardloop en die polisie bel.

“As ek eerste op Zello ingeroep het, glo ek dat hulle die inbrekers op heterdaad kon betrap het!”

Lees ook: Huishulp betrap rowers op heterdaad in Middelburg

Die booswigte het ’n staalpyp, wat hulle agter in die erf gekry het, teen ’n muur skuins neergesit, sodat hulle daarop kon loop tot op die muur van die bure agter hulle en kon wegkom.

•Me. Chawner sê sy wonder of dit nie dieselfde drie rowers was wat Woensdag omstreeks 12:00 ingebreek het by ’n huis in Japonikastraat (Kanonkop) nie.
Tydens hierdie voorval het ’n huishulp hulle in die huis betrap, waarop die rowers, wat almal gewapen was, gevlug het.

Hulle het die wapens in haar rigting gewys en gesê sy moet stilbly, maar sy het begin skree, waarop die tuinier aangehardloop gekom en die rowers voet in die wind geslaan het.

Hulle het weggekom in ’n ou model blou BMW.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button