Boer wag magteloos vir doodskoot
’n Boer het met sy hand gekeer, terwyl ’n plaasaanvaller aanmekaar die sneller getrek het...die wapen het bly stoor.
“Ek het net my hand uitgehou in sy rigting, nie dat dit sou help nie. Hy het die wapen gespan, maar elke keer as hy die sneller trek, het dit gestoor. Die patroon het nooit in die loop gegaan nie. Hy het hom nie ver genoeg gespan nie,” beskryf mnr. Leon Bester die gebeure Saterdagoggend op die plaas Groenfontein.
Mnr. Bester se honde het omstreeks 05:00 geweldig begin blaf. Hulle het uitgekyk maar aanvanklik niks gesien nie.
Die volgende oomblik het ’n man om die hoek gestap.
Sy vrou, Ans, het by die deur gestaan. “Hy het gesê hy soek na ’n ene mnr. Mtsweni. Sy het gesê hy bly nie hier nie, maar op ’n buurplaas.”
Die man het astrant geraak!
Lees ook: Rowers hou aan skiet tydens Marble Hall plaasaanval
“Hy het vlot Afrikaans gepraat en nadat sy nog ’n paar keer vir hom gesê het dat Mtsweni nie daar is nie, het hy omgedraai en weggeloop.”
Hulle het opgemerk dat hy heeltemal in die verkeerde rigting loop, as wat sy vrou vir hom beduie het.
Na ’n rukkie het hy agter hul store in verdwyn en mnr. Bester het besluit om te gaan kyk waarheen hy op pad is.
Hy het ingedagte, sonder sy selfoon in sy bakkie geklim en stadig in die rigting gery, waar hy die man die laaste keer gesien het.

“Die volgende oomblik het hy my arm, wat op die oop venster gerus het, gegryp en met sy volle gewig daarop gelê. Ek het probeer wegry, maar hy het nie afgeval nie en het my met ’n draadtang begin slaan. Hy het ook die bakkie se sleutels uitgepluk en dit in die veld gegooi, waarop die bakkie gaan staan het.”
Mnr. Bester het gekeer dat hy nie oor die kop geslaan word nie en ’n stoeiery het tussen hulle ontstaan.
Hy het met sy ander hand rondgevoel vir iets om homself te verdedig en het sy verkyker raak gevat.
Nadat hy die booswig ’n paar gevoelige houe geslaan het, het hy sy greep verslap en ’n meter weg van die bakkie af gaan staan.
Lees ook: Drie plaasaanvalle binne ‘n week
Weens ’n ou heupbesering loop mnr. Bester baie swaar en kon hy nie uitspring om sy sleutels te gaan soek om weg te kom van sy aanvaller af nie.
“Hy het ’n pistooltjie, dit het vir my gelyk soos ’n 6.35, uit sy sak gehaal en dit aanmekaar probeer span en die sneller getrek.”
Nadat die aanvaller talle kere die sneller onsuksesvol getrek het, het hy ’n entjie weg geloop, maar weer terug gestap na mnr. Bester in die bakkie.
“Tydens die stoeiery het sy mus in die bakkie afgeval en hy het vir my gesê om sy mus terug te gee.”
Kort hierna het die aanvaller weggestap en buite sig verdwyn.
Mnr. Bester het besef hy het nie sy selfoon by hom om vir hulp te bel nie, maar het gesien dat die rower sy selfoon in sy bakkie laat val het.
“Ek het met sy selfoon, waarop daar net een nommer was, my vrou gebel om my voertuig te kom insleep.”
•Die aanvaller is steeds op vrye voet.
