News

Motorfietsryer veg vir lewe na ongeluk op plaas

'n Twintigjarige motorfietsryer veg tans vir sy lewe in die Witbank Hospitaal nadat hy gister in 'n ongeluk net buite Middelburg op die plaas Goedehoop (Bethalpad) was.

‘n Twintigjarige motorfietsryer, Ruben Espach, veg tans vir sy lewe in die Witbank Hospitaal nadat hy gister in ‘n ongeluk net buite Middelburg op die plaas Goedehoop (Bethalpad) was.

 

 

Volgens sy ma, Trudie, het Ruben met die veldmotorfiets op die plaas rondgery, waarop die motorfiets gegly en Ruben kop eerste die grond getref het. Hy het nie ‘n valhelm opgehad nie.

 

 

Hul bure het Ruben se ouers gekontak en het na die plek, waar die ongeluk gebeur het, gejaag.

“Dit was verskriklik om my kind so te sien. Hy het met die regterkant van sy kop die grond getref.”

Ruben is per ambulans na die Middelburg Hospitaal geneem. Terwyl hulle daar gewag het, het sy ouers in hierdie tyd geld bymekaar gemaak dat hy deur dokters by die Life Midmed Hospitaal gesien kon word.

Skanderings het gewys dat Ruben ‘n skedelfraktuur en bloeding op die brein het. Hulle is meegedeel dat ‘n breinoperasie sowat R500 000 sal kos en die familie het besef dat hulle nie so vinnig hierdie bedrag bymekaar sal kan maak nie. Ruben is weer per ambulans teruggeneem na die Middelburg Hospitaal.

Hy is laasnag na die Witbank Hospitaal geneem waar ‘n breinspesialis vanoggend na Ruben gekyk het.

Me. Espach meld dat die dokter besluit het dat hulle nie dadelik gaan opereer nie. Hy kry behandeling vir die bloeding op die brein. Hy kry ook medikasie vir die rukkings wat hy kort-kort sedert die ongeluk kry.

 

Volgens me. Espach gaan die dokters oor drie tot vier dae weer kyk of die bloeding minder is, waarna daar dan besluit sal word of hulle gaan opereer of nie.

“Ruben maak ‘n geluid as ons met hom praat en maak sy een oog soms oop, maar hy kan nie met ons kommunikeer nie.”

Persone wat die familie wil ondersteun, kan sy pa, Chris, of ma, Trudie, bel by 063 260 1560 of 063 220 8666.

 

 

Back to top button