Hongersnood onder mens en dier – jou voerskenking kan ’n verskil maak
Die droogte in die Noord Kaap is nou so kritiek dat boere vertel dat selfs die hase en skilpaaie vrek. Die hongersnood raak ook nie meer net diere nie, maar al hoe meer gesinne is sonder kos.
Kobie Schmall, wat voorheen naby Middelburg geboer het, het ’n oproep op plaaslike boere gedoen om voer te skenk. Hy werk saam met Tommie Klopper, van Pretoria, om die voer op plekke te kry waar dit die nodigste is. Die insamelingsprojek is nie aan ’n spesifieke organisasie verbonde nie en daar word direk met boere in droogte geteisterde gebiede geskakel.
Mnr. Schmall het ’n paar weke gelede sy plaas naby Middelburg verkoop en boer nou in die Modimole omgewing.
Mnr. Schmall sê enige voer, of dit nou boontjie of mieliereste bale is, kan ’n daadwerklike verskil maak.
Lees ook: Benodig voer vir diere in Noordkaap
Hy sê dat boere wat voer wil skenk, met hom kontak moet maak, sodat hy kan reël om die voer by hulle te kom haal. Kontak hom by 082 822 1838.
• Die Hervormde Kerk Middelburg Nood het ’n groot besending “bederfboksies” by die Hervormde Kerk in Kathu gaan aflewer. Die bokse is deur gemeentelede gepak met toiletware, skoonmaakmiddels en bederfmiddels. Elke boks het ook ’n persoonlike boodskap van bemoediging van die skenker af gekry.
Cas en Heleen Steenkamp het die bokse in Kathu gaan aflaai, van waar dit weer onder behoeftige mense versprei sal word.
