Wie is die seuntjie op die foto?
Die seuntjie wat so ondeund tussen twee groot slotte se bene deurloer?
Hy moes ’n Pretorianer gewees het en waarskynlik ’n Blou Bul ondersteuner.
Dit was ’n aandwedstryd in die negentigerjare tussen Suidoos-Transvaal en die Blou Bulle op Loftus Versfeld.
Wou na die wedstryd ’n spesiale foto neem, een waar Suidoos seuns op is.
Conrad Breytenbach was ’n oudleerling van Hoërskool Middelburg en die Bulle se skrumskakel. Sy pa, Schalk, was ’n oud Suidoos senter. Die twee Otto boeties, Johan en Krynauw, het van Belfast af gekom, waar hulle pa, Daan, vir die plaaslike klub en ook vir Suidoos-Transvaal uitgedraf het.

Maar dit was ook die jare van swart-en-wit fotografie. Jy kon nie soos vandag gou kyk hoe lyk die foto nie.
Die film is ontwikkel en daarna is die vergroter gebruik om ’n afdruk te maak.
Terwyl die gesigte in die bak ontwikkelaar begin gestalte aanneem het, het ’n klein seuntjie ook gesig gewys. Daar waar Krynauw en Johan vir Conrad optel, het hy deurgeloer.
Het altyd gewonder wie is die seuntjie, wat seker vandag in sy dertigerjare moet wees.
Met sosiale media se hulp kan hy dalk geïdentifiseer word. Dalk het hy later self rugby gespeel soos sy helde daardie aand?
As enigiemand hom erken bel Tobie van den Bergh by 072 220 1568.
