News

‘Lê plat!’ gil pa toe skote in hospitaal klap

“Vyf of ses skote het geklap reg onder my seun se kamer. Ek het net twee treë gegee teen die trappies af, kar toe gehardloop en vir die meisiekinders geskree: ‘lê plat!” vertel mnr. Chris Espach van die skietery die naweek in die Witbank Hospitaal.

Sy seun, Ruben (20), lê op die eerste vloer in die chirurgiese saal van die hospitaal nadat hy Donderdag ’n breinoperasie ondergaan het.

Hy het die vorige Saterdag met ’n vriend se motorfiets geval op die plaas Goedehoop, net buite Middelburg op die Bethalpad en is in die Witbank Hospitaal opgeneem, waar drie breinspesialiste Donderdag ’n breinoperasie op hom gedoen het.

Mnr. Espach sê hulle was Saterdagaand reeds by die kar in die parkeerarea, toe hy en sy vrou, Trudie, sien dat hulle sy koeldrank in die voertuig gelos het.
Sy twee dogters, Juanita (27) en Chrizanne (6) en broerskind, Maryna (15), het gesê hulle sal in die kar wag en musiek luister.

Mnr. en me. Espach is terug na Ruben, waar hulle kort daarna die skote hoor klap het.

Hy het die trappies afgehardloop en sekuriteitswagte langs die pad gekry wat vir hom geskree het: “Bel die polisie!”
Terwyl hy gehardloop het om te gaan kyk of die dogters veilig is, het hy ook die polisie gebel.

Die meisiekinders het weens die musiek nie die skote gehoor nie, maar dadelik gehoorsaam toe mnr. Espach vir hulle beveel om plat in die kar te lê.

Lees ook: Motorfietsryer veg vir lewe na ongeluk op plaas

Hy het nie die kardeure oopgesluit nie, want hy was bang die moordenaar skuil dalk nog iewers in die donker en brand op hulle los of oorval hulle as die voertuig oopgesluit word.

Nadat die sekuriteit hom verseker het dat die moordenaar reeds uit die perseel gevlug het, het hy die dogters vinnig laat uitklim en het hulle weer opgehardloop na die eerste vloer.

“Die deure was met kettings gesluit, maar die sekuriteit het ons laat ingaan en gesê die kinders moet in die hoek van die vertrek gaan sit, nie naby die vensters nie.”

Nadat die polisie die area beveilig het, het hulle gery.

“Daar is pasiënte wat hulself ontslaan het na die voorval, maar ek kan nie my kind daar wegvat nie. Hy het ’n breinoperasie ondergaan. Hulle het nou strenger veiligheismaatreëls en my kind is beslis veilig.”

•Mnr. Espach sê sedert die voorval mag voertuie nie meer in die binne parkeerarea stop nie, maar moet buite stop.

•Hy sê daar is Saterdagaand gesê dat die oorledene ’n getuie in ’n hofsaak was.

•In ’n mediaverklaring deur die provinsiale polisiekantoor is gesê dat ’n 34-jarige man in die hospitaal doodgeskiet is.
Hy is verlede Woensdag met skietwonde opgeneem vir behandeling.

Saterdagaand omstreeks 18:45 het ’n persoon ingestap in die saal en die pasiënt het hom dadelik herken.

’n Gestoei het ontstaan tussen die pasiënt en die ander persoon, waarop die verdagte verskeie skote geskiet en die pasiënt doodgeskiet is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button