Beter met motorfietsryer na breinoperasie
Ruben Espach (20) maak al selfs grappies en ’n mens kan byna nie glo dat hy in ’n ernstige motorfietsongeluk was én ’n breinoperasie ondergaan het nie.
Dit was egter nie ’n maklike paar dae vir hom en sy ouers, Chris en Trudie, nie.
Ruben het op 9 November met ’n vriend se motorfiets geval op die plaas Goedehoop (net buite Middelburg op die Bethalpad).
Hy het erge kop- en gesigbeserings opgedoen en skanderings wat by die Life Midmed Hospitaal gedoen is, het gewys dat hy bloeding op die brein het. Ruben is in die Witbank Hospitaal opgeneem, waar sy toestand dopgehou is.
Lees ook: Motorfietsryer veg vir lewe na ongeluk op plaas
Verlede week het dit beter begin gaan en het Ruben met sy familie begin kommunikeer. Donderdagoggend moes hulle egter vanaf Middelburg na eMalahleni jaag, toe dokters sy ouers laat weet het dat die bloeding op die brein versprei het.
Dieselfde dag het twee breinspesialiste ’n breinoperasie op Ruben gedoen.
Sy ma sê kort nadat hy wakker geword het, het hy in sy kamer vir hulle “hallo” gesê.
Daarna het dit daagliks beter gegaan en is sy dreineringspype verwyder.
Lees ook: “Lê plat!” gil pa toe skote in hospitaal klap
Buiten dat hy nog ’n bietjie deurmekaar is en klein goedjies vergeet, lyk hy, volgens sy ouers, baie goed.
Mnr. Espach sê sy seun het selfs al ’n slag of wat opgestaan en geloop.
’n Chirurg van Nelspruit gaan Ruben vroeg hierdie week besoek om te besluit wanneer daar begin gaan word met plastiese chirurgie en operasies vir sy gebreekte neusbeen en oogbank, asook die been tussen sy oog en kant van sy kop.
“Mense vra of ons nie bang is vir wat nog voorlê nie, maar ek sê net vir hulle: ‘as ek my oë toemaak, sien ek engele. Die genade van die Here het hom gevat tot hier. Hy sal ons verder dra.”
Hulle is verstom oor die reaksie van mense wat hulle regdeur die land gebel het vir ondersteuning.
“Een vrou se seun het ’n soortgelyke ongeluk gehad, hy is al van 2017 af in ’n koma. Sy het ons egter gekontak om ons te ondersteun. Wys jou hoe mense omgee.”
Hulle het weer almal bedank wat boodskappe stuur en vir hulle bid.
