News

Haglik in Hong Kong tronk – maar vang tog graad

Michael Amos (32), ’n inwoner van Marble Hall, wat drie jaar gelede in 'n dwelmstrik gevang en tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis is vir dwelmsmokkelary, het in haglike omstandighede ’n graad verwerf.

Amos is in Maart 2016 op Hong Kong internasionale lughawe gearresteer in besit van kokaïen. ‘n Maand voor sy arrestasie is nog ‘n Marble Hall inwoner, Mariska van Schalkwyk (30), in Maleisië vir dwelmsmokkelary gearresteer.

Die Hong Kong doeane het in Maart 2016 ‘n persverklaring uitgereik, waarin hulle aangekondig het dat hulle ‘n 29-jarige man, wat van Johannesburg via Dubai in Hong Kong geland het, se handbagasie deursoek en 2,1 kg se kokaïen ontdek het, vermom as lekkergoed bolletjies.

Daar is altesaam 110 bolletjies kokaïen gevind.

Amos is uiteindelik op 14 November 2017 gevonnis tot 25 jaar gevangenisstraf, ses jaar is opgeskort omdat hy inligting aan die polisie verskaf het en ‘n verdere agt maande is opgeskort omdat hy ‘n brief vir “Locked up in a Foreign Country” geskryf het, as waarskuwing oor wat met hom gebeur het. Hy moet in totaal 16 jaar en vier maande gevangenisstraf uitdien. Hiervan het hy reeds drie jaar en sewe maande uitgedien.

Shirley Amos, Michael se ma, sê dat haar seun in ‘n maksimum sekuriteitstronk, Stanley Prison, saam met moordenaars en verkragters aangehou word.

Toestande is haglik en die tronk is gebou om 1 400 mense te huisves, maar daar is tans 1 700 gevangenes.
Hy is al verskeie kere aangerand en was talle kere siek.

Sy probeer om Amos na ‘n tronk in Brittanje oor te plaas.

“Hong Kong staar baie politieke onrus in die gesig en hulle het ‘n uitleweringswetsontwerp onderteken om gevangenes na Sjina oor te plaas. Michael se toekoms is baie onseker, daarom is Brittanje beter vir hom. Michael is ‘n Britse afstammeling. Dit maak hierdie oordrag moontlik, maar dit is ‘n baie lang en duur proses om hom oorgeplaas te kry.”

Me. Amos sê dat dit verder goed gaan met haar seun.

“Hy is deur die Katolieke Kerk geborg om ‘n BA in besigheidbestuur aan die universiteit van Hong Kong te voltooi. Hy het so goed gevaar dat die Prisoner Trust Fund nou 80% van sy studies betaal. Hy is pas klaar met sy derde kwartaal.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button