News

Geheim van seuntjie tussen slotte se bene opgelos

“Dis my Stephan daai!”

Dit is Vrydagaand, net na nege, aan die anderkant van die selfoon is ’n opgewonde stem.

Vra verbaas: “Stephan?”

“Ja, die seuntjie op die foto, dit is my Stephan,” antwoord Fanie Groenewald.

En daar word die geheim, van die knapie wat tussen twee groot slotte se bene deurloer, uiteindelik opgelos.
Maar die antwoord: “Stephan Groenewald” is ’n lang verhaal van vele draaie en swaaie.

Stephan is die seuntjie wat ondeund tussen Bokslot Krynauw en sy boetie, Johan, se bene deurloer, terwyl hulle die skrumskakel, Conrad Breytenbach, optel.
Krynauw en Conrad het daardie aand vir Noord-Transvaal op Loftus Versfeld uitgedraf en Johan vir Suidoos-Transvaal.

Eers nadat die swart-en-wit foto ontwikkel is, is die seuntjie tussen hulle bene opgemerk.
Vandag kan Stephan glad nie sy “fotobom” onthou nie.

Hier is ’n foto van Stephan, om en by ses jaar oud, in sy Blou Bul-klere en die “Curriebeker” wat hy in die agtertuin teen sy pa Fanie gewen het.

“Ek was seker so ses jaar oud,” sê die 33-jarige prokureur by ’n versekeringsmaatskappy in Johannesburg. Dit beteken die foto is 27 jaar gelede geneem.

Hy was in Laerskool en Hoërskool Akasia en het later aan Tukkies studeer, maar vir die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se onder 20-span haker gespeel. Fanie was ’n dosent by die joernalistieke departement van TUT.

“Die eerste jaar was ons ligawenners en die tweede jaar was Nolis Marais, wat later die Bulle afgerig het, ons afrigter.”

Lees ook: Wie is die seuntjie op die foto?

Fanie was ’n skeidsregter en pa en seun was gereeld op Loftus.

“Dit was die jare toe seuntjies nog op die veld kon draf, om hulle helde se handtekeninge te kry,” vertel Fanie, oor sy seun se verskyning tussen die drie spelers.

En vir 27 jaar het ek en Fanie saam vergaderings bygewoon, op komitees gedien en seminare bygewoon, sonder om te weet dit is sy klein rakker wat op die foto is.

Pa en seun het selfs jare gelede ’n wedstryd tussen die Northern Bulls en die Auckland Blues op Witbank kom bywoon en ek het gereël dat hulle in die presidentslosie kuier, steeds onbewus dat die onbekende seuntjie op die foto, langs my sit.

’n Facebook-vriend van sy vrou, Mariëtte, het die Middelburg Observer se plasing gedeel, oor die soektog na die seuntjie. Toe sy dit sien, het sy onmiddellik gedink dit is Stephan op die foto. Hy en sy ouers, wat by hulle gekuier het, kon dit bevestig en die geheim van die seuntjie tussen die slotte se bene is opgelos.

Wys jou net: Die wêreld is klein, so klein soos ’n sesjarige seuntjie tussen twee reuse slotte se bene!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button