News

Wat nou met bek-en-klou? Privaat besigheid betaal vir staat se flaters

Die mees onlangse uitbraak van bek-en-klouseer in Limpopo knou nie net die land se ekonomie nie maar het ook ’n daadwerklike impak op veral klein en eenman sake-ondernemings. 

Die Departement van Landbou het, nadat daar aan die begin van November bek-en-klouseer op ’n plaas naby Molimolle ontdek is, ’n verbod op alle veilings in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en die Noord-Wes aangekondig. ’n Verklaring deur die departement sê dat daar intussen by vyf plekke beeste met bek-en-klou geïdentifiseer is en dat daar vasgestel kon word dat al die beeste van dieselfde veilingskraal in Limpopo afkomstig is.

Alhoewel veilings afgelas is, is daar nie ’n verbod op een-op-een transaksies en die vervoer van beeste geplaas nie. Dit steek baie rolspelers in die vleisindustrie dwars in die krop. Die departement raai wel aan dat “as dit enigsins moontlik is moet gesplete hoef diere nie vervoer word tot die huidige situasie opgelos is nie,” maar plaaslike rolspelers is dit eens dat hulle nie oor die vermoëns beskik om dit toe te pas nie.

• Petri Badenhorst, van Badenhorst Afslaers in Belfast, sê dat die verbod op veilings verrykende gevolge het. Daar word elke Woensdag veiling op Belfast gehou.

Eenman besighede wat die vervoer van lewende hawe veilings toe behartig, spekulante wat beeste een-een opkoop en by die veiling kom verkoop, smouse wat vars produkte en kos by die veiling verkoop en tydelike werkers wat op Woensdae by die veiling kom werk is nou almal skielik sonder inkomste.

Lees ook: Foot-and-mouth disease spreads to four feedlots in Limpopo

Mnr. Badenhorst sê dat daar steeds lopende uitgawes, soos permanente werkers is wat betaal moet word, al kom daar nie geld in nie.

“Die tydsberekening is baie sleg. Boere sit met hul hande in hul hare en vra my wat hulle nou moet doen want hulle moet beeste verkoop om te kan plant,” sê mnr. Badenhorst.

Hy sê omdat Badenhorst Afslaers ’n privaat afslaer is wat net op Belfast veilings hou, kan hulle nie soos ander afslaers steeds in ander provinsies met veilings voortgaan om ’n inkomste te kry nie.

Mnr. Badenhorst sê dat afslaers nou moet saamwerk en sorg dat die verbod so gou moontlik afgeskaf word.

“Ek glo nie al die samesweringsteorieë nie. Daar is ’n bek-en-klou uitbraak en hy moet nou reg bestuur word. Stel padblokkades op om beeste se beweging te beheer, maak dood wat siek is,” sê mnr. Badenhorst.

• Flip van der Merwe van Karoo Ochse sê dat die weeklikse veilings in die omgewing ’n groot finansiële omset het en dat daardie geld op die oomblik stil staan. Hulle hou elke Woensdag veiling op eMalahleni.

Mnr. Van der Merwe sê die veilingsbedryf behels nie net die fisiese veiling weekliks nie, maar ’n baie groter organisasie van bemarkers en vervoerders wat nou negatief beïnvloed word.

“Dis ’n gemors. Ons kry nie antwoorde nie. Daar is nie duidelikheid oor hoe lank die verbod gaan wees of wat die prosedures is nie,” sê hy.
Hy sê die feit dat veilings nie gehou mag word nie maar slagpale en voerkrale steeds direk van plase kan koop, nie sin maak nie.

Lees ook: Foot and mouth disease in the Limpopo district

“As hulle die bek-en-klou wil stop moet hulle die beweging van beeste stop,” meen mnr. Van der Merwe.

• Cobus Boshoff, van Boshoff Afslaers wat op Dinsdae veilings in die Middelburg gebied hou, stem saam dat om veilings alleen te stop terwyl die beweging van beeste nie beheer word nie, nutteloos is.

“Daar is nou sprake van vervoer permitte en dat die boer veearts sertifikate moet hê, maar wie gaan dit beheer? Die staat het nie die mannekrag nie,” sê hy.
Mnr. Boshoff sê dat dit jammer is dat afslaers die prys moet betaal terwyl die staat nie hul verpligtinge om die siekte te beheer nakom nie.

“Dit bly die staat se verantwoordelikheid om bek-en-klou te beheer en hulle doen dit nie.”

• Koos Joubert van Belfast slagpale sê dat hulle op hierdie stadium nog gelukkig is om besigheid te kan doen.
“As hulle ons toemaak sit 60 of 70 mense sonder werk,” sê hy.

Mnr. Joubert sê wat hom verstom is dat die departement ’n eensydige besluit gemaak het om veilings te verbied sonder om enige rolspelers te nader vir insette.

Hy sê dat die vleis, wol en vel-mark in gedrang is. Ander lande wat meeding in die vleismark gebruik ook die situasie in Suid Afrika om hul eie produkte op die wêreldmark te bemark.

“Die groot probleem is mense wat nie hul werk doen nie. Die land lei miljoene rande se skade en dit alles net omdat die staat nie doen wat hulle moet nie. Dit is hulle werk om grense en gebiede te beskerm. Die staat is die groot skuldige party maar hulle verskuif net die blaam. Nou moet ander mense vir hulle foute betaal.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button