Derde ontvoeringspoging in middedorp gefnuik met dapper optrede van gemengde gevegskuns kenner
Middelburg is geruk deur ’n derde ontvoeringspoging van ’n kind in die middedorp verlede Sondag, waartydens ’n gemengde gevegskuns kenner die ontvoerder aan die nekvelle beetgekry het.
Hy moes egter vir sy eie lewe vlug, toe die man hom met ’n slagmes wou bydam.
Dié ontvoeringspoging volg op twee ander, voorverlede Woensdag en verlede Saterdag, waartydens ’n tweejarige en negejarige seun in hul ouers se voertuie gegryp is.
In voorverlede Woensdag en verlede Sondag se gevalle, was die mans beide met slagmesse gewapen.
• In die eerste voorval omstreeks 18:30 in Walter Sisulustraat, is die tweejarige Raygan van Niekerk uit sy ma se werksbakkie gegryp.
Sy boetie, Nathan (9), het dadelik uitgespring en die booswig agterna gesit, waarna die man die kleuter in die pad gegooi, en Nathan hom terug in die bakkie getel het.
Terwyl hulle ma, Lizette, die ontvoerder agterna gesit het, het hy ’n slagmes uitgepluk en gedreig om haar dood te maak.
Lees ook: Klankgreep: Ma gil “Los my kind!” toe man met mes haar kleuter gryp
Die voorval het landwyd opslae gemaak.

• Verlede Saterdag kort na 15:00 het ’n man ’n negejarige seun deur sy oop ruit gegryp en hom uit die kar probeer trek, terwyl hy ook gepoog het om die voertuig se deur oop te sluit.
Die ma het dadelik haar kind gegryp en hom terug getrek in die voertuig in. Die verkeerslig het groen geword en die ma het dadelik na veiligheid gejaag.
Lees ook: Criminal grabs boy through open window
’n Tweede boef het ook die seun se jonger boeties wat agter gesit het, geteiken maar hul deure was gelukkig gesluit.
Die familie wou nie hul identiteite bekend maak nie.
• In verlede Sondag se voorval het ’n gewapende man ’n vrou en haar dogter in OR Tambostraat geteiken.
Die kind, haar ma en ouma was gou by die First Choice Mom’s Dagbreek apteek in, en reeds by hul voertuig toe die boosdoener toeslaan.
’n Paartjie wat in die apteek was het die kind hoor gil, waarna die man, mnr. Walter van Straaten, ’n gemengde gevegskuns kenner, die booswig agterna gesit het.
Die man het die kind gelos toe hy sien mnr. Van Straaten pyl op hom af.
Lees ook: Seun (9) takel ontvoerder wat tweejarige in Middelburg uit kar gryp
Laer af in die pad het mnr. Van Straaten die boef om die nek beetgekry, waarna die man hom twee maal met ’n 30 cm slagmes wou steek.
Hy kon gelukkig die steekhoue ontwyk en die boosdoener het by die Irak taxistaanplek ingevlug, met twee karwagte op sy hakke.
Mnr. Van Straaten sê die dogtertjie wat gegryp is, was ongeveer vyf jaar oud.
Haar ma het die man dadelik met die vuiste bygedam maar hy het eers die kind gelos toe mnr. Van Straaten tot haar redding gekom het.
• Geen arrestasies is nog gemaak nie.
Die polisie het ook nog nie die munisipale CCTV beeldmateriaal gaan aanvra nie.
