News

Die ander meisie op die sypaadjie

Nege jaar gelede het sy langs 'n tuindrom op die sypaadjie wakker geword sonder haar bra en broekie.

Hierdie week het Suzette (skuilnaam om haar te beskerm) “die graf weer oopgemaak om hierdie walgverhaal te vertel.”

Ja, sy het die storie van die meisie op die sypaadjie in 2016 gesien en het dit haar soos ‘n dolk in die hart gesteek. Sy het ook al die ander stories gesien oor kaptein Awie Geldenhuys, maar besluit om stil te bly, omdat sy gevrees het vir haar kinders se lewens. Want, volgens haar, is sy destyds gedreig.

Haar hart het egter ineen gekrimp toe sy die berigte van Maryka Kleinhans, wat in Kranspoort gesterf het, gelees het. Kort daarna het sy vir Maryka se ouers ‘n boodskap gelaat. Maar steeds geswyg.

Hulle het haar aan die produksiespan van Carte Blanche voorgestel, maar sy was te bang. Na die uitsending het sy besluit om haar verhaal te vertel en het sy hierdie week ook ‘n verklaring afgelê. “Ek is nou bereid om in ‘n hof te getuig,” het sy dié week gesê.

Lees ook: Carte Blanche ondersoek bewerings teen voormalige polisieman

Haar verhaal begin as enkelouer in 2010, toe sy by ‘n restaurant die meeste van die tyd nagskof gewerk het. Sy het gereeld baba-oppassers gebruik om na haar kleuter, te kyk.
Daardie aand sal sy nooit vergeet nie. “Hy het aangebied om my huistoe te vat. Ek het hom vertrou, want hy was dan in die polisie!”

Sy het weer tot laat die nag gewerk en het ‘n vriend gevra of sy saam met hom ‘n drankie by Amazon’s Restaurant wil gaan drink.
Suzette het ingestem, want sy was sonder vervoer.

Sy onthou dat sy nog haar glas Rosé wyn klaar gedrink het, toe Geldenhuys hom aan haar kom voorstel het as “Awie van die polisie”.
Volgens haar het hy gou haar vertroue gewen en hulle het ‘n hele ruk gesels.

Sy wou bel vir ‘n geleentheid, maar hy het aangebied om haar te gaan aflaai.

Terwyl hulle gery het, het sy gevra of hulle kan stop vir sigarette, waarop hulle by ‘n vulstasie gestop en hy die sigarette, asook ‘n bottel water gekoop het.
Terug in die kar het hy na bewering vir haar gevra “of sy ‘n bietjie dronk is”, waarop hy glo vir haar ‘n pilletjie aangebied het.

“Hy het gesê dat hulle as polisielede dit drink vir babelaas as hulle die vorige aand laat gekuier het.”

Kort hierna het hy al geselsende gevra of hulle net gou by sy huis kan stop, waarop sy ingestem het, “want ‘n mens kan mos die polisie vertrou.”
Sy beweer dat sy op die bank gaan sit het, waarop hy vir haar ‘n glas rooiwyn aangebied het en gesê het hy kom nou terug.

Lees ook: Kaptein het meisie afgelaai

“Van daar af het alles deurmekaar geraak.”

“Die volgende wat ek kon onthou, is toe ek langs die tuindrom wakker geword het.”

Sy het oor die palissadeheining geklim en haar kind by haar buurvrou gaan haal.

Die volgende dag het sy baie sleg en deurmekaar gevoel en het nog ‘n dag later haar buurvrou in haar vertroue geneem.

Hulle is Middelburg Polisiestasie toe waar sy ‘n verklaring begin aflê het. Volgens haar het die polisieman vir haar gesê: “jy moet mooi dink wat jy doen. Is jy seker jy maak die regte besluit?”
Sy het net daar uitgestap en is bang huistoe.

Kort daarna het sy ‘n oproep gekry van ‘n onbekende nommer af, maar sy beweer sy het Geldenhuys se stem herken: “Ek weet waar jy bly en dat jy ‘n kind het.”
Uit vrees het sy van werk en adres verander.

“Ek is vandag nog bang oor wat kan gebeur met my of my kinders, maar ek kan net nie meer stilbly nie.”

•Die program, Carte Blanche, het Sondagaand ‘n uitsending gehad waartydens hulle ‘n ondersoek gedoen het oor bewerings teen Geldenhuys. Hy is etlike maande gelede afbetaal.

Lees ook: Vrou sê sy doen dit vir meisie op die sypaadjie

Buiten Maryka se ouers, het hulle ook met van die beweerde slagoffers, ‘n joernalis van die Middelburg Observer, die polisie en die Onafhanklike Polisie Ondersoek Direktoraad gepraat. Hulle het met Geldenhuys en met sy prokureur probeer praat, maar hulle het nie kommentaar gelewer nie.

Brig. Leonard Hlati (polisie se provinsiale woordvoerder) het gesê dat Geldenhuys afbetaal is oor klagtes van aanranding met die opset om ernstig te beseer en ‘n klagte onder die seksuele misdrywe wet.

Mnr. Sontaga Seiza (Opod) het op die program gesê hulle is nog besig met die ondersoek. Hy het ook beloof dat alle sake wat geopen word, wel deeglik ondersoek sal word.

•Die Observer het twee keer hierdie week boodskappe vir mnr. Geldenhuys se prokureur in eMalahleni gestuur, maar hy net nie voor druktyd gereageer nie.
Mnr. Geldenhuys is ook geskakel, maar hy het nie geantwoord nie en is ‘n stemboodskap op sy selfoon vir hom gelaat, maar ook hy het nie voor druktyd gereageer nie.

•In 2016 is ‘n meisie op ‘n sypaadjie gekry nadat mnr. Geldenhuys haar uit Amazons gedra het. Sy het later gesê dat hy lank met haar gery het, by ‘n huis gestop het waar ‘n vrou vir haar ‘n pilletjie gegee het en sy daarna niks kon onthou nie. Sy het op ‘n sypaadjie wakker geword.

Hy het gesê dat hy haar voor haar ouerhuis afgelaai en dat sy self uitgeklim het. Haar ouers het egter al vir jare nie meer daar gebly nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button