Drie saam pastoor vir terrorisme aangekla
Drie mense, wat oor die naweek gearresteer is, het Maandag oggend saam met Harry Knoesen in die hof in Middelburg verskyn.
Die vier beskuldigdes word aangekla van terrorisme. Knoesen het reeds Vrydag in die hof verskyn. Die Valke het Vrydag na sy verskyning gesê het dat hulle op soek is na Riana Heymans. Sy is oor die naweek tesame met twee broers, Eric en Errol Abrahams gearresteer.
Landdros Lindiwe Vukeya het aan hulle verduidelik dat indien hulle skuldig bevind word, hulle ’n voorgeskrewe vonnis van lewenslange tronkstraf in die gesig staar.
Heymans het telkemale in trane uitgebars en Knoesen het haar probeer troos deur sy arm om haar skouers te sit.
Lees ook: “Haat-pastoor” Harry Knoesen aangelka van terrorisme vir oproepe van burgeroorlog en staatsgreep
Al vier beskuldigdes het aangedui dat hulle op hierdie stadium hul reg om vir borg aansoek te doen, laat vaar. Die saak is uitgestel tot 21 Januarie 2020. Hulle sal deur hul regsverteenwoordigers met die staat moet reël, indien hulle besluit om voor dan om borg aansoek te doen.
Knoesen het aan www.mobserver.co.za voor die hofverrigtinge gesê dat dit glad nie goed gaan met hom nie.
•Volgens die Valke was daar tydens ’n soektog by ’n huis in die Oos-Kaap, wat ook beweerlik aan ’n Crusaders lid behoort, afgekom op ’n moontlike plofstoffabriek en elektroniese toestelle is gevind.
