Man skree: ‘Here help ons!’ terwyl bakkie rol
’n Man word steeds in die intensiewe eenheid van die UnieHospitaal in Alberton behandel nadat hy en sy vrou Saterdagoggend, op pad see toe net buite Hendrina in ’n ongeluk betrokke was.
Me. Daleen Buchling (59) sê sy het net kneus- en snywonde opgedoen, maar haar man, Kobus (60) het sy knie op drie plekke gebreek en word Woensdag geopereer.
Die ongeluk het omstreeks 05:30, sowat 10km buite Hendrina op die Bethalpad gebeur.
Hulle het vroeg vanaf Hendrina Kragstasie gery vir ’n seevakansie in Kwazulu Natal.
Sy vertel dat sy nie gesien het wat gebeur nie, want sy was besig op haar foon.

Sy het net gevoel die Corsa bakkie waarin hulle gery het, steek vas en begin rol.
“Ek het geskree: ‘wat gaan aan!’ en het my man gegil: ‘die bakkie rol!’ Ek weet dat hy ook geskree het: ‘Here help ons!’ terwul die bakkie gerol het.”
Me. Buchling sê volgens die merke in die veld, blyk dit dat hul voertuig sowat sewe keer gerol het, voor dit weer op sy wiele te lande gekom het.
Dit blyk dat ’n voertuig besig was om haar man verby te steek op ’n blinde hoogte, waarna ’n ander voertuig van voor af gekom het.
Hy het oorgeswaai, hul bakkie getref en sodoende die wiel laat afbreek, wat veroorsaak het dat hul bakkie begin rol het.
Alhoewel haar gesig geweldig gebloei het, het sy dadelik uitgespring en omgehardloop na die bestuurderskant, waar haar man gillend van pyn gesit het.
Hy het vir haar gesê hy kry nie asem nie en gekerm van pyn weens die knie wat geweldig gebreek is.

“Weens die bloed op my vingers, wou my selfoon se duim-aansluiting nie werk nie en het ons met ’n groot gesukkel van my man se foon af gebel.”
Hul kinders en skoonkinders het ook vanaf Middelburg na die toneel gejaag.
Die egpaar is na die Highveld Mediclinic in Trichardt afgevoer, waar me. Buchling na behandeling ontslaan is.
Weens mnr. Buchling se ernstige kniebesering is hy dieselfde middag per helikopter na die Unie Hospitaal in Alberton gevlieg, waar hy sedertdien in die intensiewe eenheid behandel word.
Me. Buchling sê hulle het al ’n snit in haar man se been gemaak om bloedtoevoer na sy voet te verbeter.
Hy sal Woensdag ’n knie-operasie ondergaan.
•Die bestuurder van die ander voertuig se naam is nie bekend gemaak nie. Sy voertuig het ook omgeslaan, maar volgens me. Buchling het hy nie enige beserings opgedoen nie.
•Me. Buchling wil graag hul kinders, asook die paramedici, dokters en hospitale bedank vir hul hulp en bystand. Sy sê ook dankie aan haar familie by wie sy tans tuisgaan in Meyerton om daagliks haar man in die hospitaal te besoek.

