‘Koevoetbende’ slaan weer toe
Alle aanduidings is dat die berugte koevoetbende weer in Middelburg toegeslaan het.
Daar is Sondag binne minute by ’n huis ingebreek, kort nadat ’n egpaar vir die dag vir ’n piekniek wou gaan.
As ’n mens kyk na die manier wat die veiligheidshek en houtdeur oopgebreek is, is daar waarskynlik ’n koevoet gebruik om toegang tot die huis te verkry.
Dit blyk ook dat die booswigte me. Denise du Plessis en haar lewensmaat, Ben du Preez, dopgehou het.
Me. Denise du Plessis sê hulle het Sondag beplan om vir die dag Olifants River Lodge toe te gaan en het omstreeks 10:00 vanaf hul huis in Springbokstraat (Kanonkop) gery.
Hulle het alles in haar kar gelaai en wou net gou by die Middelburg Mall stop voor hulle uitry na hul piekniekbestemming.

Nog voordat hulle behoorlik by die Mall was, het die alarmbesigheid gebel om te sê dat hulle op pad is na hul huis, omdat al die alarm-ogies wys dat daar beweging in die huis is.
Me. Du Plessis sê die boosdoeners moes hulle beslis dopgehou het, want daar is baie artikels uit die huis in die rukkie gesteel wat hulle weg was. “Hulle moes kort nadat ons gery het, reeds ingebreek het.”
Die palissadehek is van die spoor afgetel, waarna die veiligheidshek waarskynlik met ’n koevoet oopgebreek en die houtdeur ook daarmee oopforseer is.
Daarna het hulle gevat wat hulle kon. In die sitkamer is die televisie uitgeprop. “Hulle het geen kabels uitgeruk nie.”
Hulle vermis ook skootrekenaars, al me. Du Plessis se juwele (wat gevat is nadat al die kaste uitgegooi is) en tekkies, mnr. Du Preez se klere en kameras en van die beddegoed op die beddens. Die vermoede bestaan dat die diewe die beddegoed gebruik het om die gesteelde artikels in toe te draai.

Mnr. Du Preez se voertuigsleutels is in die huis gekry, waarop die boewe doodluiters hul buit in die kar gelaai en weg gery het.
Die voertuig, ’n wit CX3 Mazda, registrasienommer JBF 505 MP, is steeds weg.
Me. Du Plessis vra dat indien enige persoon inligting het oor die voertuig, om haar te bel by 079 584 4800.
•Net die waarde van die gesteelde artikels uit die huis, word op sowat R100 000 geskat.
•www.mobserver.co.za en die Middelburg Observer het deur die jare al talle stories gedoen van die berugte “koevoetbende” wat verspot-maklik veiligheidsdeure blitsig met ’n koevoet oopbreek.
