News

Plastiek krokodil vir ‘poets’ by Presidentsrus gebruik

Foto’s van ’n krokodil by die laagwaterbrug by Presidentsrus se eiland, het sosiale media aan die gons gehad. 

Die woeste reën het nie ’n watervloed tot gevolg gehad nie. ’n Inwoner wat op “die eiland” bly, wat as gevolg van die massas water van die buitewêreld afgesny is, het besluit dat die vloedwater die ideale geleentheid skep om ’n poets te bak.

Dit help natuurlik as die alombekende Shorty (Alfred Ntombela) van Leon Schusterfaam hand bysit.

Koos Weber sê dat hy lank terug ’n lewensgrootte plastiek krokodil by ’n kwekery gekoop het. Die krokodil is so lewensgetrou, dat selfs sy oë groen en rooi skyn in die donker. Die rivier in vloed het ’n ander tipe liggie laat aangaan by dié ontdeunde inwoner.

Mnr. Weber en mnr. Ntombela het die krokodil in die donker in die vlakwater in die ryvlak na die laagwaterbrug staangemaak en ’n paar foto’s geneem. (Mnr. Ntombela werk as deeltydse verkoopsverteenwoordiger vir mnr. Weber.)

Mnr. Weber sê hy het dit op ’n privaat WhatsApp groep onder inwoners rondgestuur en nie vir ’n oomblik gedink dat die foto’s so wyd gedeel gaan word nie.
Dit was nie lank voor die foto’s www.mobserver.co.za bereik het nie. Die oorspronklike boodskap is vinnig opgevolg met nuus dat dit net ’n poets is.

“Ons sit hier op die eiland, ons kan nêrens heen gaan nie, toe dog ek ek maak maar ’n ou grappie met die mense,” sê mnr. Weber.

Hy besit ’n besigheid in Middelburg maar kon darem van die huis af werk vir solank die laagwaterbrug onder water is.

Om te wys dat dit regtig net ’n grap is, ry mnr. Weber met sy waterponie op die rivier rond en vervoer mense heen en weer van die eiland af vasteland toe.

“Ek sou beslis nie daar gery het as ek gedink het dat daar regtig so ’n groot krokodil in die rivier is nie,” sê hy.
Hy bly nou al meer as vyf jaar in Presidentsrus en is vas oortuig dat hy in die paradys bly.

As die krokodil nie vir poetse gebruik word nie, lê dit in die son en bak op mnr. Weber se grasperk.

“Sê tog net vir die mense ek sê askies! Ek het net ’n grappie gemaak!” rapela mnr. Weber.

•Mnr. Weber sê dat hulle ingelig is dat die laagwaterbrug heel moontlik teen vanmiddag weer begaanbaar sal wees.

*Rapela is die Sesotho woord vir pleit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button