Woonstel in brand verwoes
Bure het met tuinslange probeer om 'n brand by 'n woonstel te probeer blus, maar die vlamme het alles binne verwoes.


Mnr. Godfrey Sibiya onthou dat hy gewek is met die reuk van rook in sy woonstel op die eerste vloer by Palm Island woonstelblok op die hoek van Hoog- en Sasolstraat (Mineralia, Middelburg).
Hy het uit die woonstel gehardloop, waarna sy bure met tuinslange probeer het om die vlamme te blus.
Mnr. Bernard van der Berg (Middelburg GPF) was op pad na die OK Grocer, toe hy die rook opmerk en het dadelik soontoe gejaag.
Hy het die Middelburg Brandweer gebel, maar hulle het hom in kennis gestel dat hulle reeds op pad is.
“Die brandweer was blitsig daar, maar nog voordat hulle opgedaag het, het die dak al inmekaar gesak en het ons vir die mense gevra om op ‘n veilige afstand te gaan staan,” vertel mnr. Van der Berg.
Die brandweer het vinnig die vuur geblus, maar die die meeste van die woonstel met sy inhoud het verbrand.
Mnr. Sibiya, wat sonder ‘n hemp, geskok op die toneel rondgeloop het, weet nie wat die brand kon veroorsaak het nie. Hy vermoed op hierdie stadium dit was van ‘n elektriese aard.
