Blonde seuntjie gil aanmekaar in jagende bakkie
’n Man het ontsteld kom hulp soek nadat ’n bakkie met ’n blonde seuntjie in, wat aanmekaar gegil en sy deur probeer oopmaak het, voor sy huis verby gejaag het.
Mnr. Piet de Lange het pas vir www.mobserver.co.za van die gebeure vertel.
Hy het buite in sy erf in Jeppestraat (Middelburg Sentraal) gestaan toe hy die gille van ’n kind hoor.
Mnr. De Lange het opgekyk en ’n wit bakkie gesien wat in die straat afjaag. Langs die persoon wat bestuur het, het ’n blonde kind van tussen drie en vier jaar gesit.
Die kind het geweldig geskree en mnr. De Lange het besluit om hulle in sy eie voertuig agterna te sit.
Lees ook: Klankgreep: Ma gil “Los my kind!” terwyl man met mes haar kleuter gryp
Hy moes egter eers wag dat sy hek oopskuif, maar het die bakkie in die oog gehou.
Wat hy wel opgemerk het, is dat die kind se deur oopgegaan het en dat die deur nog oop was toe die bakkie in Joubertstraat afgedraai het. Hy het gehoor hoe die man op die kind skree.
Hy onthou verder dat daar iets rooi, soos ’n drom, agterop die bakkie was.
Mnr. De Lange het in die rigting gejaag wat hy die bakkie gesien het, maar het hom verloor. Die voertuig was te ver voor hom om die nommerplaat af te skryf.
•Daar is tot op hede nie ’n vermiste persoon saak geopen nie en Rehana (Ena) Calitz Pilodia (voorsitter, Gemeenskapspolisiëringsforum) vra dat mense nie moet oorreageer nie. Sy meld dat dit moontlik ’n drywer kon wees wat ’n kind kleuterskool toe moes neem.
Enige inligting rakende die voorval of die ouers van die kind, word gevra om haar te bel by 082 415 8029.
