News

Gesin groet hulle superhero

“Pa se groot seun ek gaan jou mis ou Bul. Jy moet sag rus. Jy was my Super Hero!” 

So groet die gewese Puma slot, Luan Velthuizen, sy seuntjie Markus (2) in ’n roerende boodskap op sosiale media. Markus het saam met sy peetpa, Jacques de Jager (40) in ’n motorongeluk gesterf, verlede Donderdag op die N1-hoofweg buite Mokopane. Jacques se meisie, Angela Pozzan (33), is ook in die ongeluk oorlede.

’n Toyota Yaris het teen ’n hoë spoed probeer om die gesin se Toyota Land Cruiser, met sleepwaentjie, aan die linkerkant verby te steek en het toe die sleepwaentjie getref.

Saam met Luan in die Land Cruiser was ook sy vrou Anri (34) en sy agt maande oue seun Lukas. Hulle is almal ernstig beseer en in die Pholoso-hospitaal in Polokwane opgeneem.

Daar word Vrydag om 10:00 ’n roudiens vir klein Markus en Jacques in die Taberna Dei Oos-kampus, Faunapark, in Polokwane gehou.
Intussen stroom ondersteuning van reg oor die wêreld vir die Velthuizen en De Jager gesinne in.

Die AquiEsBesiers rugbyklub, vir wie Luan in Frankryk gespeel het, het ook hulle medelye met die gesin betuig.

Klein Markus saam met sy peetpa, Jacques de Jager.

In ’n spesiale boodskap aan sy swaer sê Luan:

Waar begin ek Jacques de Jager? Ek ken jou al ongelooflik lank. Jy was die boetie wat ek nooit gehad het nie. Jy was my mentor/vriend/gymbuddy. Ons het partykeer vir 10 minute om ’n tafel gesit sonder dat ons iets vir mekaar hoef te sê.

Ek kon baie by jou leer jy was altyd so geduldig met my as ek jou ’n klomp vrae vra om seker te maak ek verstaan wat jy bedoel. Jy het my altyd laat self ondersoek instel om my ’n beter mens te maak en altyd die goed in almal raak gesien.

Jy het geweet wie jy is en waarna toe jy op pad was, alhoewel daar ’n paar slaggate op jou pad gekom het kon dit jou nie eers van stryk af bring nie. Jy het altyd sterk gestaan met daai beeskuite van jou.

Vir my seun Markus was jy daar van sy geboortedag af. Die 28 maande wat die Hemelse Vader hom geleen het aan ons. Saam het julle gesterf, maar anders sou ek dit nie wou gehad het nie. Saam kan julle nou bike ry in die hemel en kattekwaad aanvang en visvang.

Jy en Markus het ’n spesiale band gedeel van dag een af. Jy was ’n peetpa 1000 Jacques meer as waarvoor ons kon vra. Jou geskenke en tyd was vir ons van onskatbare waarde, meer as wat mens dit ooit in woorde kan uitdruk.

Jou laaste 10 dae op aarde het ek die voorreg gehad om saam met jou vakansie te hou en diep dinge te praat. Jy het ’n rustigheid in jou hart gehad wat ek nog nie voorheen by jou opgemerk het nie.

Die branders het jou kinderlik opgewonde gemaak, sodat jy en Markus ure saam in die see spandeer het…

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button