News

Geldenhuys by kuierplek ‘gepanelbeat’

Awie Geldenhuys, die voormalige polisiekaptein wat al talle kere in die nuus was oor bewerings van seksuele misdrywe met vroue, is op 28 Desember aangerand.

Talle mense wat die betrokke aand by die Stywe Lyne kuierplek was, het www.mobserver.co.za gebel en van die gebeure vertel.

Daar is gesê dat daar twee vroue bewerings gemaak het die aand, waarna hy na buite gelok en hy deur ’n man en vroue aangerand is.

“’n Vrou het gekla dat sy nie lank daar was nie en dat hy vir haar ’n drankie gekoop het. Sy kon kort daarna nie op haar voete staan nie. Ek het hom uitgehelp en hom gepanelbeat,” het ’n man (wat anoniem wil bly) gesê. Daar is ook ander bewerings gemaak deur ’n ander vrou. Daar is egter gevra dat die koerant nie daaroor moet uitbrei nie.

Ooggetuies het vertel dat Geldenhuys geval het, nadat hy deur die man aangerand is, waarop hy deur ’n vrou geskop is.

“Terwyl hy sy bloeiende gesig met Wet Wipes afgevee het, het hy vir my gesê: ‘jy is ’n oulike meisie, wil jy nie saam met my huis toe gaan nie,’ maar ek het vir hom gesê my kêrel is ook daar en hy moet my uitlos,” vertel een van die vroue.

Lees ook: Berugte kaptein Awie Geldenhuys afgedank

Ander persone vertel dat hulle hom gesien inkom het by Stywe Lyne, waarna hy by die kroeg gaan sit en kuier het.

“Ek het hom nie dadelik herken nie, want hy lyk nou baie anders as die foto’s wat in die koerant was. Hy het hom aan almal voorgestel as AJ.”
Die ooggetuie onthou dat hy sy sleutels vir ’n kroegmeisie gegee het en begin drankies koop het vir die vroue wat by die kroeg gesit het.

“Hy was baie beskaafd en het beslis nie moeilikheid gesoek nie.”

Dinge het begin krapperig raak in die kuierplek toe iemand hom herken en ’n paar lelike woorde toegesnou het.
Kort daarna is hy na buite gelok en aangerand.

Lees ook: Carte Blanche ondersoek bewerings teen voormalige polisieman

Die polisie is ontbied en twee polisielede het lank met hom gestaan en praat. Werknemers het hom en die polisie omstreeks 23:15 gevra om te gaan, sodat hulle kon sluit.

Hy het saam met ’n familielid gery en sy voertuig is die volgende oggend kom haal. “Hy was nie in ’n toestand om te bestuur nie, want hy was sleg aangerand en het ’n paar drankies ingehad.”

•Die mede-eienaar van Stywe Lyne, mnr. Billy Immelman, sê dat Geldenhuys nie welkom is by Stywe Lyne nie.

“My uitgooier wat weet dat Awie nie mag ingaan nie, was daardie aand nie aan diens nie en dit is hoekom hy toegelaat is om in te gaan.”

Mnr. Immelman sê daar is al ’n ruk gelede die besluit geneem om mnr. Geldenhuys nie toe te laat nie, juis om ’n bakleiery te voorkom en ter wille van mnr. Geldenhuys se eie veiligheid.

•Kapt. Khanyisile Zwane (polisiewoordvoerder) sê dat daar nie ’n aanrandingsaak deur mnr. Geldenhuys by die polisie aanhangig gemaak is nie.

www.mobserver.co.za het mnr. Geldenhuys probeer bel en het ’n stemboodskap vir hom gelaat. Hy het nie voor druktyd daarop gereageer nie.
Daar is ook ’n WhatsApp en SMS boodskap vir hom gestuur. Alhoewel hy dit gelees het, het hy nie daarop reageer nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button