Pastoor sê hulle gaan bid teen vreemde simbole op klip
Net etlike blokke onder helder geverfde klippe in Dennesig waar Christene Saterdae vir Middelburg bid, is daar ’n klip met geheime simbole in Kanonkop gevind wat moontlik satanies van aard kan wees.
Fietsryers het afgekom op die klip met vreemde simbole op. Dit is naby die hoek van Walter Sisulu- en Proteastraat, reg agter die muur waarop “Middelburg” by die ingang van die dorp staan.
Die klip is onder ’n reuse boom, wat sy tak-arms wyd oopsprei. So asof die boom hierdie plek se geheime nagbesoekers se afgesonderde vergaderings veilig wil bewaar.
Pastoor Peet Fourie, van die Gemeentes van Christus, Telestai (Middelburg en Hendrina) was verras toe hy hoor van die klip met die geheime simbole in Walter Sisulustraat.
Sy gemeente het in Februarie verlede jaar die reuse klippe in Harry Gwalastraat gaan verf, waar hulle elke Saterdag tussen 07:00 en 08:00 vir die dorp bid. “Ons het die klippe sommer met verf wat by hul huise gestaan het, geverf.”

Hy sê dat hulle nie gedurende Desember gebid het nie, maar Saterdag weer gaan. Hy vra dat alle Christene saam met hulle sal kom bid.
Hy het aangedui dat hy sommer dan vir almal gaan sê dat hulle gaan bid teen die simbole wat op die klippe in Kanonkop geteken is.
“Jy weet tog self ons bid nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose geeste in die lug.”
•Ten opsigte van die simbole op die klip in Kanonkop, het www.mobserver.co.za by deskundiges gaan aanklop.
Volgens Aserac – Care SA, in Kempton Park, se opleidingsbundel “Occult Related Trauma and Abuse – Level 1” is die half- of sekelmaan, wat aan die linkerkant van die klip geverf is, ’n gewilde heidense en Wiccan/Paganis-simbool wat gebruik word om die Godin Diana, te eer.
Dis die eerste gedeelte van die drie verskillende gedeeltes van die maansiklusfases. Die sekelmaan staan bekend as die groeiende/wasfase. ’n Tipiese ‘nagmaal’ word op sekere aande gehou met sekelmaan vormige koeke wat gemaak is met bestanddele van sout, heuning, wyn, mieliemeel, olie en soms bloed. Hierdie simbool word meestal gesien op die krone wat die hoëpriesters dra.

Op die voorkant van die klip is daar ’n pentagram geverf. Die pentagram word as ’n simbool van beskerming en wegdryf van bose magte en ander ongewenste energieë en entiteite gebruik.
Dit verteenwoordig die godin Diana in Wicca/Paganisme, maar in Satanisme word dit gebruik as aanbidding van Satan. By Satanisme is die pentagram se twee punte aan die bokant van die simbool en in Wicca/Pagan is die twee punte aan die onderkant van die simbool.
Die pentagram op die klip het tussen die twee punte ’n “Triquetra“, wat ook die “Trinity Knot” genoem word. Dit simboliseer aarde, lug en water – gedagtes, liggaam en siel verlede, hede en toekoms. Hierdie simbool verteenwoordig die godin as moeder van die skepping, jongmeisie van onskuld en ouer vrou van wysheid.
Sataniste en die Wicca/Paganiste het spesifieke feesdatums waarop hul verskillende rituele doen om verskillende feeste te vier.
Hul eerste fees was 7 Januarie, wat as ’n bloed ritueel bekend staan, die volgende Sataniese fees is op die 17 Januarie.
•Volgens die inligtingsbundel is daar ’n paar verskille tussen Wicca/Paganisme en satanisme.

Wicca/Pagan neem deel aan ’n spirale dans en vorm ’n dromsirkel (kragsirkel), almal wat deelneem is naak onder die maanlig.
Vier punte word met kerse op in die grond ingedruk. Die punte verteenwoordig Noord – groen – aarde, Oos – geel – lug, Suid – oranje – vuur en Wes – blou – water.
Daar word ’n altaar in die middel geplaas. Klokke word gelui om geeste op te roep en daar word uit hul “Book of Shadows” gelees. Die hoëpriester maak gebruik van ’n ‘Athame’-dolk. Daar word kruie en drankies vir die doel van magie gebruik.
Wicca/Pagan gebruik wit magie (white magick – ja, met ’n ck, want dit het ’n totale ander betekenis). Baie fokus word gesit op fortuinvertellery, waarsêery, valse genesing en seksualiteit.
Satanisme gebruik verskillende kleure en die deelnemers is ook naak tydens die rituele op die altare. Bloedverbond word gesluit en opgeteken in “The Book of Death, Book of Shadows en the Holy Blood”.
Hulle gebruik towerkuns en vloeke, vuur, drankies, dwelms en offers tydens hul rituele. Gedurende hul inisiasie ritueel word 30 stukke silwer aan ’n nuwe lid gegee, waarin die lid ’n belofte aflê dat hy nooit die geheime van die inisiasie sal uitlap nie en dat hy lojaal sal bly aan sy mede lidmate.

Satanisme maak gebruik van swart magie (black magick).
Daar is deskundiges wat opgelei is in hierdie veld, wat persone wat vasgevang is in die okkulte, kan bystaan om daarvan los te breek. Die eerste stap is om te gaan aanklop by ’n leraar of jou kerk.
•Verskeie plaaslike inwoners het al die opleiding ondergaan by Aserac.
•Aserac – Care SA is gestig deur FH Havinga wat talle kwalifikasies het in teologie, psigologie en op paramediese gebied.
Hy tree op as traumaterapeut vir die nooddienste in Gauteng (waaronder Netcare 911) en die Metropolisie.
Mnr. Havinga is die eerste gespesialiseerde reservis in Suid-Afrika vir die hulp en opleiding van speurders ten opsigte van misdaad wat verband hou met die okkulte.
Hy help ook al vir meer as 20 jaar mense wat wil wegbreek van satanisme en okkultiese bedrywighede.
•Hy is ook die visevoorsitter van die Alpha Trauma en Ondersteunigsentrum in Kempton Park, ’n gemeenskapsentrum wat mense in die gemeenskap ondersteun wat blootgestel is aan erge traumavorme. Hierdie trauma wissel van kinder- en seksuele mishandeling, tot kapings en mishandeling waar rituele by betrokke is.
