News

Nog ’n ooggetuie van Geldenhuys aanranding praat

Nog ’n ooggetuie het na vore gekom na die geveg in Stywe Lyne waar oud polisie kaptein, Awie Geldenhuys, aangerand is.

“Die geveg was nie net buite nie, die moeilikheid was al binne!” het ’n vrou (wat anoniem wil bly) vir www.mobserver.co.za gesê.
Sy vertel dat Geldenhuys reeds by die kroeg was toe sy daar aangekom het.

“Hy het met die vrou gesels wat later gesê het dat sy ’n drankie gedrink het en daarna nie op haar voete kon staan nie.”
Die vrou en ’n vriend het aan die anderkant van die kroeg gesit en gesels nadat sy van die dansbaan af gekom het.

Sy het haar glas opgetel en ’n slukkie gevat. Die oomblik toe sy haar glas neersit, het sy opgemerk hoe Geldenhuys sy skopdopglasie op die toonbank neerstamp.

“Hy het my só gekyk, met sy middel- en wysvinger teen mekaar vir my gewink en gesê: “kom hier jou lekke! Groet jy my nie?”

Lees ook: Geldenhuys by kuierplek ‘gepanelbeat’

Sy het in sy rigting geloop, maar ’n vriend van haar het haar aan die arm beetgekry en gesê: “kom weg hier. Ek sal nie dat hy vir my vriend se vrou sê ‘jou lekke’ nie!’ En toe snap my vriend net.”

Die vrou sê sy het vir mnr. Geldenhuys gesê: “Weet jy wat Awie, ek gaan jou nie groet nie, niks leliks daarby bedoel nie. Ek wil nie onnodige moeilikheid hê vanaand nie.’ Toe ek weer sien toe is dit chaos in Stywe Lyne.”

Mnr. Awie Geldenhuys is op 28 Desember by die kuierplek Stywe Lyne in Middelburg aangerand. Persone wat daar was, sê hy het homself as AJ voorgestel.

Haar vriend was woedend.

Sy het opgemerk dat ’n ander man na die uitsmyter toe stap en vir hom sê: “laat Awie eerder ry, dat hier nie moeilikheid kom nie. Ek het ook vir Awie gesê: ‘drink jou doppie klaar, dan loop jy eerder. Ons is nie lus vir drama nie.”

Volgens haar het hy vir haar gesê: “ja maar jy ken my.’ Ek het gesê, ‘ja maar dit is juis, loop eerder.”

Die vrou sê dat hy saam met die uitgooier uitgestap het en dat een van haar vriende haar gekeer het om uit te gaan.

“Toe ek later buite kom, toe kom ek op dié prentjie af.”

Lees ook: Berugte kaptein Awie Geldenhuys afgedank

Die oomblik toe sy buite kom, het Geldenhuys gesig na onder op die grond gelê en sy het gesien hoe ’n man en ’n vrou hom skop.

“Ek skree toe vir die uitgooier, ‘ek het jou so mooi gevra, moenie dat hulle nou k.. maak nie. Dis onnodig! Toe skree ’n ander man vir my: ‘hy is ’n p…, hy verdien dit!”
Sy onthou dat Geldenhuys na sy kar geloop het en dat hy daar Wet Wipes gekry het om sy gesig skoon te maak.

Sy weet dat die vrou wat beweer het dat sy ‘nie op haar voete kon staan nie’, deur ’n ander vrou badkamer toe geneem is “sodat sy kon opgooi, dat wat ookal in haar sisteem was, kon uitkom. Ek het in die badkamer ingekom toe hulle daar besig was.”

Die vrou sê dat Geldenhuys nie aggressief was nie.

Hy het glo vir almal by die kroeg drankies gekoop “en almal het hul shooters gedrink!”

Kort na die aanranding het hy na bewering vir almal wat buite gestaan het, gekyk en gesê: “ek sien wie julle almal is. Julle sal almal jul dag kry.”

•Daar is die afgelope week gesê dat daar twee voorvalle was, twee vroue wat bewerings gemaak het, die een met die drankie wat nie op haar voete kon staan nie en ’n ander vrou, oor wie gevra is dat daar nie daaroor berig moet word nie.

Die bogenoemde bewerings is die derde voorval.

Www.mobserver.co.za het weer boodskappe gelaat op Geldenhuys se selfoon se antwoorddiens, op WhatsApp en SMS, maar hy het nie daarop reageer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button