News

Gesoekte sak inmekaar toe hy gearresteer word

Twee jong mans, wat in die Oorwinnaarshuis vir dwelmverslaafdes in Laersdrift gebly het, is agter tralies en ’n voertuig wat een van hulle na bewering gesteel het, is teruggevind. 

Nico du Preez het Dinsdag, 7 Januarie, uit die huis verdwyn, terwyl pastoor Jannie Jacobs en sy gesin met vakansie was. ’n Blou Volkswagen Caddy bakkie en verskeie ander items het saam met hom verdwyn.

Pastoor Jacobs het sy vakansie kort geknip en hom teruggehaas huistoe.

Nadat die polisie Woensdag by die Oorwinnaarhuis was om almal te ondervra, het nog ’n man, Bennie Rheeders, ook verdwyn. Een van die ander inwoners in die huis het vertel dat hulle na bewering vir Du Preez en Rheeders gehoor beplan het om eiendom te vat, om te verkoop, sodat hulle genoeg geld kan hê om mekaar in Amanzimtoti te ontmoet.

Nadat Du Preez se foto op sosiale media gedeel is, het die eienaar van ’n selfoonwinkel in Middelburg laat weet dat hy by hom kom aanklop het om ’n selfoon te verkoop.
Die bakkie is ook daarna in die omgewing van die Hope City kompleks opgemerk, waar daar gereeld dwelmbedrywighede is.

Later Woensdagmiddag is pastoor Jacobs deur ’n sekuriteitsoffisier vanuit Lydenburg gekontak nadat hy sy bakkie opgemerk het naby die dorp.

Bennie Rheeders.

 

Du Preez is in die voertuig betrap en gearresteer. Hy het glo die dag van sy arrestasie inmekaar gesak en het twee dae in die hospitaal deurgebring, voordat hy terug is selle toe.

Lede van die Middelburg Gemeenskapspolisiëringsforum het Rheeders in Middelburg opgemerk en hom gearresteer. Hy word tans by die Roossenekal polisiestasie aangehou en het reeds in die hof verskyn waar daar R800 borg toegestaan is.

Dit is onduidelik of Rheeders die fondse kon bekom om die borg te betaal.

Pastoor Jacobs sê dat beide verdagtes hom genader het om die saak teen hulle terug te trek.

Lees ook: Nico, bakkie en rekenaar verdwyn

“Ek is baie lief vir hulle en ek kry hulle jammer. Maar hulle het die wet oortree en moet nou die nagevolge daarvan dra,” sê hy.

Pastoor Jacobs sê dat daar baie mense is wat hom vra of hy dink dit wat hy doen, om met dwelmverslaafdes te werk, die moeite werd is.

“As daar net een ou ’n jaar is wat dit maak. As ek net vir een verslaafde nog ’n kans kan gee. Dan is dit die moeite werd. Ek sal aangaan met hierdie werk tot die Here vir my sê ‘dis nou genoeg.’”

• Verskeie items, waaronder ’n hoekslyper, hoë druk spuit, klanksisteem, boot battery, kettingsaag, selfoon en skootrekenaar is steeds soek. Indien iemand weet waar om dit op te spoor, kan hulle vir pastoor Jacobs bel by 082 566 1862.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button