News

Skoene van voete gesteel nadat man eie lewe neem

“Xavier het altyd gesê daar is nie slegte mense nie, net mense met slegte maniere en gewoontes.” Een van daardie mense het sy skoene van sy voete afgesteel, terwyl sy liggaam aan ’n boom hang, nadat hy naby die gebedsoond langs Walter Sisulustraat sy eie lewe geneem het. 

Xavier Liebenberg (47) se liggaam is Dinsdagoggend, 7 Januarie, gekry.

Voor sy dood was hy die man wat by iemand sou stop wie se motor lang die pad onklaar geraak het. Hy was die vriend wat jou motor vir jou sou regmaak, sonder om betaling te verwag. Hy was ’n pa en oupa vir kinders aan wie hy nie bloedverwant was nie.

Sy dood laat baie vrae en baie mense gebroke agter. Bo-aan die lys van gebrokenes is sy verloofde van 13 jaar, Rita Richards.

Rita sê dat hul ontmoeting liefde met die eerste oogopslag wees. Albei het reeds ’n mislukte huwelik agter die rug gehad, en was bang om weer dieselfde foute te maak. Hulle het mekaar die eerste keer gesien toe Rita ’n gemeenskaplike vriend by Xavier moes gaan aflaai in Steelpoort.

Hy het daarna na haar begin soek, tot hy haar opgespoor het. Ten spyte van hul vrese is hulle ’n paar dae na hul eerste ontmoeting verloof en het hulle so gebly tot die dood hulle geskei het.

Lees ook: Liggaam hang naby gebedsoond 

Rita sê dat Xavier iemand was wat mal daaroor was om te filosifeer. Hy was oortuig dat daar nie iets soos ’n slegte mens is nie, net mense met slegte maniere. Hy het die lewe met ’n glimlag aangepak en reggestaan om te help. As daar baklei is, het hy weggeloop.

Toe een van Rita se kinders, uit haar vorige huwelik, ouer word, het hulle die kleinding na Xavier vernoem.

In die laaste tyd het Xavier ’n geloofsverdieping ondergaan en baie kerk toe gegaan. Hy en Rita sou hierdie jaar trou en hy wou graag groot gedoop word.

Lees ook: Talle soek na geliefdes – ‘Is dit dalk my broer wat daar hang?’

Rita vertel dat Xavier iemand was wat ander moed ingepraat het as hulle wou tou opgooi, wat die vrae net soveel meer maak. In ’n brief wat hy vir haar gelos het, raak hy tegniese punte aan, soos dat sy polis nog nie reg is om uit te betaal nie en dat sy dus alleen verantwoordelik sal wees vir finansiële verpligtinge. Maar hy verduidelik nie hoekom hy so skielik en sonder waarskuwing besluit het om sy eie lewe te neem nie.

Sy het hom voor sy dood gegroet en was onder die indruk dat hy gimnasium toe is. Een van sy vriende het hom die middag voor sy dood by die gebedsoond gesien en gevra of hy hom by die huis kan aflaai, omdat die weer opgesteek het.

Xavier het aan hom gesê dat hy net ’n bietjie alleen wou stap om sy kop skoon te kry. Rita is Dinsdagoggend wakker gemaak met flitsligte wat in haar oë skyn, toe die polisie by haar huis kom aanklop het.

“Ek het eers gedink hulle het die verkeerde inligting dit kan nie Xavier wees nie. Maar toe is dit hy. Ek weet nie wie is so wreed om sy skoene van sy voete af te steel, terwyl hy daar hang nie. Wie doen so iets?”

Sy sê dat sy glo dat Xavier by die gebedsoond ’n lang gesprek met God gehad het.

“Niemand kan my troos nie. Niemand kan iets sê om dit beter te maak nie. Ek is gebroke,” sê Rita.

• Xavier is Saterdag, 11 Januarie, vanuit die Sewende Dag Adventiste Kerk in Middelburg begrawe.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button