Weerlig slaan boer tot in hospitaal
Die boer wat vier weke gelede deur weerlig getref is, word steeds in die intensiewe eenheid van 'n hospitaal in Alberton behandel.
Hugo Harmse, wat boer vir mnr Dewald de Water op ‘n plaas tussen Bethal en Middelburg, is op 21 Desember laat middag getref terwyl hy aan ‘n planter gewerk het.
Sy vrou, Corlia, sê dat hy sedert die voorval, in die intensiewe eenheid in die Alberton Union Hospitaal behandel word.
Hy het verskeie werwels in sy rug beskadig, terwyl daar gaatjies in sy dikderm en diafragma gebrand is.
Die gaatjies in sy dikderm het veroorsaak dat van sy maagvloeistof uitloop, en dokters moes opereer om die sepsis onder beheer te kry.
Me. Harmse vertel moedeloos hoe hulle sy rugoperasie vyf keer uitgestel het, waar hulle die werwels sou heg, en nou lyk dit of hulle glad nie meer gaan opereer nie.
“Dit is ‘n wonderwerk dat hy oorleef het en ons dien ‘n ongelooflike God, so ons bid dat hy ten volle sal herstel”.
