News

‘Is mamma nog in die hemel?’

Op 27 Januarie hierdie jaar sal ’n familie blomme gaan neersit op die plek waar Maryka Kleinhans ’n jaar gelede in Kranspoort gesterf het.

’n Jaar waarin hulle meer vrae as antwoorde gekry het en waar die hartseer en pyn by die dag groei.

“Die regstelsel faal ons. Daar gebeur net mooi niks,” het me. Petro Bezuidenhout, Maryka se ma, Donderdagoggend gesê.

Maryka het die aand in die poort gesterf. Sy was saam met die voormalige polisieman, Awie Geldenhuys, in die kar.

Daar is eers vir Maryka se ouers, Johan en Petro, gesê dat sy uit die voertuig gespring het en later dat sy uit die kar geval het.

Lees ook: Ouers het verhouding met polisie kaptein nie goedgekeur

Kersfees 2019 was vir hulle die moeilikste ooit, want Maryka se vierjarige dogtertjie (daar is gevra om haar naam te weerhou) het baie vrae gehad. “Ouma is mamma nog in die hemel? Hoekom het sy nie vir my ’n presentjie gebring nie?”

Hulle moes ook hartseer hoor hoe sy kort-kort vertel wat haar mamma haar geleer het.

Me. Bezuidenhout sê die herinneringe aan Maryka in haar huis, is ook daagliks daar. “As jy ’n kas oopmaak, is daar ’n boek wat sy gelees het. As jy ’n liedjie hoor, dan onthou jy hoe sy saamgesing en gedans het. Haar lagstemmetjie in die huis is stil. Elke dag word moeiliker.”

Mnr. Awie Geldenhuys is op 28 Desember by die kuierplek Stywe Lyne in Middelburg aangerand. Persone wat daar was, sê hy het homself as AJ voorgestel.

Sy het gesê dat die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat (Opod) hulle belowe het dat hulle die gesin op hoogte sal hou van die saak.

Kort na nuwejaar het Maryka se suster, Winnie, navraag gedoen. Hiertydens het hulle gehoor dat die forensiese ondersoek nog tot twee jaar kan duur.

Lees ook: Polisiekaptein op toneel waar vrou langs pad gesterf het

“Ons is magteloos. Hierdie is tog ook ’n hoë prioriteitsaak soos die Oscar Pretoriussaak. Hoekom kan hulle nie die laboratoriummense vra om dit vinniger te doen nie?”

Me. Bezuidenhout sê dit is baie moeilik vir hulle, want baie mense vra waar die ondersoek staan en dan het hulle self nie antwoorde nie.

“En hy gaan net aan asof daar niks gebeur het nie. As hy by ons verby ry, dan sien ons hoe lag en gesels hy met die vrou of persoon langs hom.”

•Winnie het vir www.mobserver.co.za vertel dat sy Geldenhuys een keer verlede jaar, omtrent Septembermaand, in die vroeë oggendure by ’n kuierplek in eMalahleni gesien het.

Lees ook: Geldenhuys by kuierplek ‘gepanelbeat’

“Dit was omstreeks 02:00 en die kroeg was al toe, maar hulle het vir Awie drankies bedien.”

Me. Bezuidenhout se verloofde, Mark da Costa, het opgemerk dat Geldenhuys na haar staar.

Me. Bezuidenhout sê hy het kort daarna tussen haar en een van haar vriende kom sit en met haar probeer praat.

“Awie het vir my ’n shooter gekoop, maar ek het gesê ek wil dit nie hê nie.” Volgens haar het hy begin huil en het met haar probeer praat om “die waarheid te vertel.” Sy wou egter nie met hom praat nie en hulle het kort daarna gery.

•Mnr. Geldenhuys is die 28ste Desember by Stywe Lyne aangerand, nadat vroue bewerings gemaak het.

Www.mobserver.co.za het na dié voorval, asook hierdie week probeer om hom te kontak op sy selfoon (oproep, WhatsApp en SMS), maar hy reageer nie daarop nie.

•Kort na Maryka se afsterwe is daar ’n Facebookblad, “Justice for Maryka” begin.

•Mnr, Sontaga Seisa (Opod mediawoordvoerder) het gesê dat die ondersoek voortduur. Sodra die DNS uitslae beskikbaar is, sal hulle die saak oorhandig aan die Nasionale Vervolgingsgesag.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button