News

Middelburg 911 Zello kanaal sluit

Die Middelburg 911 Zello radio kanaal is uitgevee. Die kanaal is jare gelede gestig en was vir talle inwoners ’n hulplyn in tye van nood.

Deur die jare was daar baie bloedstollende hulpkrete oor die radio gehoor, soos die aand in 2015 toe klein Aiden Roberts in die swembad geval het en Middelburg 911 lede die paaie vir die ambulans versper het, sodat dit so gou moontlik by die hospitaal kon uitkom.

•Daar is uit verskeie oorde verneem dat daar ’n geveg was oor die eienaarskap van die Zello kanaal, asook ’n magstryd tussen Middelburg 911 en die plaaslike Gemeenskapspolisiëringsforum.

“As jy die beledigings, gevloek en geskel moet hoor wat op boodskappe aangestuur is, sal jy skrik,” het ’n bron met kennis van die magstryd vertel.

Een van die oorspronklike stigterslede van Middelburg 911, wat versoek het om anoniem te bly, is bekommerd oor die welstand van veral bejaardes, noudat die kanaal nie meer aktief is nie.

“Wat van oumense, wie se kinders of kleinkinders vir hulle die kanaal afgelaai het? As hulle nou in nood is, is die kanaal net weg en hulle gaan dalk nie weet hoe om ’n ander kanaal af te laai nie. Daar is nou ook so baie kanale, mens weet nie watter een is die regte een nie.”

•Sedert Dinsdag word boodskappe op WhatsApp gestuur wat lees dat die Middelburg 911 Zello kanaal gesluit het en dat daar ’n nuwe GPF kanaal gestig is, om noodroepe te hanteer. Daar is ook ’n Middelbur 24/7 (sonder die g) Zello kanaal gestig, wat deur ’n Middelburg 911 lid bedryf word.

GPF voorsitter, Rehana (Ena) Calitz Pilodia, sê dat daar glad nie ’n geveg aan die gang is nie.

Lees ook: Die dorp vat hande

Sy sê dat sy Dinsdag gesien het dat die Middelburg 911 Zello kanaal af is en toe uitgevind het dat die eienaar daarvan die kanaal gesluit het.
Me. Pilodia sê dat Middelburg 911 sedert verlede jaar besig was om te ontbind. Maar dat hulle en die GPF in elk geval al lankal saamwerk.

“Daar is nie issues nie. Dit is dieselfde ouens, ons het net ’n nuwe kanaal gestig. Meeste van die mense wat op die ou kanaal was, klim nou op die nuwe een,” sê sy.

Me. Pilodia sê dat die skakel na die nuwe Zello kanaal op WhatsApp en ook op die GPF se Facebookblad “Middelburg Community Policing Forum” geadverteer word.

Me. Pilodia het bejaardes wat sukkel om die nuwe kanaal af te laai, uitgenooi om haar te bel sodat sy ’n GPF lid in hul omgewing kan stuur om hulle te help. Sy kan gekontak word by 082 415 8029.

• Francis Davies, van Middelburg 911, herhaal me. Pilodia se weergawe. Sy sê dat daar glad nie ’n geveg was nie, maar dat die Middelburg 911 Zello kanaal weens tegniese redes gesluit is.

“Dit was ’n oop kanaal, wat beteken dat enige Jan Rap kon inluister. Mens kan dit nie verander op Zello nie. Ons kon ook nie die naam verander soos wat jy met ’n WhatsApp groep kan doen nie. Toe besluit ons om die kanaal te sluit,” sê me. Davies.

Sy sê ook dat Middelburg 911 lankal saam met die GPF werk en dat hulle eintlik een is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button