HTS Middelburg seun sterf terwyl hy vissies vang in vlak swembad
’n Gewilde leerling van HTS Middelburg, Janco du Toit (15) het gister (Sondag) gesterf terwyl hy in vlak water besig was om vissies uit ’n swembad te skep.
Sy ouers, Corné en Johan du Toit, het gevra dat sy oom, Johann Hattingh, medianavrae moet hanteer.
“Daar is baie bespiegelings, maar ons weet nog self nie waaraan hy dood is nie,” het mnr. Hattingh vanoggend gesê.
Janco was saam met sy pa se broer, André, by André se skoonpa in Jeppestraat waar hulle omstreeks 10:30 klein kurpertjies uit ’n byna leeggetapte swembad gevang het.
Die plan was om dit op die plaas wat Andre en Johan gekoop het, se plaasdam te gaan gooi.
Janco se ouers het besluit hulle ry solank plaas toe, want almal sou later daar gaan braai.
André het op die kant van die swembad gestaan en Janco het in die kniediep water gestaan en vissies vang.
Mnr. Hattingh sê André het later gesê dat Janco inmekaar getrek en omgeval het in die water. Hy het dadelik ingegaan, die seun op die swembadtrappie laat lê en begin met noodbehandeling. Tussenin het hy vir hulp geroep.
Lees ook: Middelburg seun se liggaam gekry
’n Buurvrou het hom hoor skree en op die Gemeenskapspolisiëringsforum se Zellogroep ’n ambulans ontbied.
André het ook Janco se ouers gebel en gesê hulle moet dadelik terugdraai.
Met hul aankoms het hulle ook met die hulp van bure mond-tot-mond asemhaling toegepas, tot die paramedici van ER24 by hulle oorgeneem het.
Die paramedici het vir ’n geruime tyd met Janco gewerk en hom ook ’n hartskok gegee, maar hy is kort daarna dood verklaar.
Mnr. Hattingh sê ’n lykskouing sal bepaal waaraan hy gesterf het en daar word gevra dat mense nie aannames moet maak nie.
Hy onthou hoe hy en sy vrou, Christelle, asook haar suster, Corné en Johan (Janco se ouers) Vrydagaand aan tafel gesels het oor waarom kinders moet sterf.
Mnr. Hattingh het onthou hoe sy eie twee en ’n halwe jaar oue dogtertjie, Mariëlda, op 31 Desember 1991 verdrink het. Hulle het ook tans ’n jong familielid wat veg teen kanker.
“Sondag is Janco dood en is ons weer teruggeruk na Vrydagaand se gesprek. Al die vrae, die hartseer, die gevoel dat die Here jou in die steek gelaat het. Die antwoord wat ek gekry het, is dat die Here ’n plan het. Hy vat nie net ou, sieklike mense hemel toe nie. Hy wil kinders, gebreklike mense, ou mense van alle soorte en ouderdomme in die hemel hê.”
Lees ook: Ouers jaag na toneel nadat bus omslaan en een kind sterf
Me. Hattingh het elke oggend haar susterskind gaan oplaai en by die skool afgelaai.
Hy het elke oggend wanneer hy uitgeklim het, vir haar met ’n glimlag gesê: “lekker, lekker…” .
Vrydag het sy hom nog by HTS Middelburg se Interhuisbyeenkoms afgelaai, waar hy by die verspringput gehelp het.
Mnr. Hattingh sê die twee gesinne het Desember ook saam gekamp by Riviersig, waar Janco se tent voor hulle tent opgeslaan het en hulle saam vis gevang het.
“Ons was so naby aan mekaar. Janco was ’n buitekind. Ek sal nooit vergeet hoe hy eenkeer ’n hoenderboerderytjie aan die gang gesit het en die saamkuiers as ons gaan jakkalse jag.”
Mnr. Hattingh het hom ook geleer gholf speel en Janco se pa het hom verder afgerig.
“Janco was ’n terggees, wat altyd gereed was met ’n grappie. Hy was ’n gewilde seun en het baie vriende gehad.”
Janco was ’n graad 10 leerling aan HTS Middelburg.
Hy word oorleef deur sy ouers, Johan en Corné, suster Jo-Ané, familie en vriende.
•Daar is nog nie begrafnisreëlings getref nie. Sodra die reëlings gefinaliseer is, sal www.mobserver.co.za dit publiseer.
