News

Gruwelhuissaak uitgestel na April

Die verhoor van die pa wat van die verkragting van sy dogtertjie, en verwaarlosing van haar en haar twee boeties tereg staan, is Maandag uitgestel na April, omdat twee getuies nie beskikbaar was nie.

Een van die getuies, ’n plaaslike inwoner, kon nog nie opgespoor word vir die dagvaardiging om beteken te word nie, en ’n ander van Gauteng wat ’n ernstige siek familielid in die hospitaal het, is van die redes hoekom die verhoor uitgestel is.

Die pa pleit onskuldig op die aanklagte, terwyl sy vrou reeds lewenslange tronkstraf uitdien, nadat sy skuldig op die klagtes van verkragting, verwaarlosing en die versuim om die dade aan te meld, gepleit het.

Beide is destyds borg geweier, nadat hulle uit die dorp gevlug het, om vervolging te ontduik.

’n Vasberade maatskaplike werker het hulle by familie in eMalahleni opgespoor en laat arresteer.

Die paartjie se drie kinders, ’n ses dae oue babaseun, sy nege maande oue boetie en die agtjarige dogtertjie, is in 2016 uit hul sorg verwyder.

Die pa het tydens ’n onderhoud in 2016 gesê dat die bewerings teen hom en sy vrou onwaar is, en dat die dogtertjie uit die skool gehou is weens demoniese invloede van die buitewêreld.

Die ouma van die kinders, wat ook in die huis gewoon het, wou aanvanklik met die Middelburg Observer praat, maar het op regsadvies besluit op stilswye.

Die polisie se hulp moes in 2016 ingeroep word, nadat die ouma geweier het om die maatskaplike werker toegang tot die huis te gee, en gedreig het om die honde op hulle te sit.

Die pa se verhoor sal op 24 April afskop.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button