Familie in Kranspoort op herdenking van Maryka se dood
“Ons slaan ons oë op na die berge, waar sal ons hulp vandaan kom...” Die begin van ’n pa se hartseer gebed vanoggend terwyl trokke donderend in Kranspoort afkom.

Vandag is dit presies ’n jaar gelede dat Maryka Kleinhans in Kranspoort gesterf het.
Maryka het op 27 Januarie 2019 in Kranspoort gesterf. Sy was saam met die voormalige polisiekaptein, Awie Geldenhuys, in die kar.
Daar is vir haar ouers, Johan en Petro Bezuidenhout, gesê dat sy uit die kar gespring het en later dat sy uit die kar geval het.
Lees ook: Bekende polisiekaptein op toneel waar vrou langs pad gesterf het
Terwyl hulle kerse op ’n tafel neersit en boodskappe skryf op die harte teen die betonmuur, waar hulle vermoed sy het gesterf, loop die trane vryelik.

“Ons mis jou my pop,” skryf mnr. Bezuidenhout en me. Bezuidenhout se boodskap begin met “ons harte is nogsteeds in duisend stukke…”
Terwyl sy aanmekaar die trane afvee, sê me. Bezuidenhout dat sy elke dag bid vir geregtigheid.
“Ek het egter Woord gekry wat sê: ‘nie ons tyd nie, maar Sy tyd. Hy sal ons nie bo ons kragte beproef nie, maar dit is nie maklik nie.”

•Maryka se dogtertjie (daar is gevra dat haar naam nie genoem word nie) was ook in Kranspoort saam met die familie, waar sy met die hulp van haar tannie, Winnie, ’n hartjie geteken het met die woorde: “I love you” daarby.
•Mnr. Bezuidenhout het gesê dat hy hom al tot die ministriële kantoor van die polisie gewend het vir antwoorde.

“Daar het mense ons gebel, maar die antwoorde was maar net weer dieselfde.”
Die gesin moet tevrede wees met die antwoord dat daar gewag word vir DNS toetse.
