Familie soek steeds na ‘man met die kan’
’n Familie soek steeds na “dr. Jerry Botha”, die man met die kannetjie langs die N4, wat vertel het hy is ’n veearts.
In 2018 het sy suster, Anita Myburgh, reeds na hom begin soek.
Hierdie week het sy dertigjarige seun, Johan, op sosiale media weer oor hom uitgevra. Jerry weet nie van Johan se bestaan nie.
Tussen 2002 en 2004 het talle motoriste vir “Jerry”, met sy kannetjie langs die N4 gekry, sy storie was altyd dat hy ’n veearts is en dat sy bakkie met vyf elandjies agterop langs die pad gaan staan het. As iemand vir hom ’n paar rand gegee het, het hy belowe dat hulle ’n naweek gratis by sy lodge kan kom bly.
Mnr. Tobie van den Bergh (redakteur, Middelburg Observer) het in 2004 hom raakgeloop en aangebied om die “elandjies” te help, maar hy het mompelend gevlug in die rigting van die tolhek.
Me. Myburgh sê dat sy haar broer 35 jaar gelede laas by die grens gesien, toe hulle hom gegroet het met hul verhuising na Zimbabwe. Met haar terugkeer na Suid-Afrika (Meyerton) het sy weer na haar broer begin soek.
Lees ook: Waar is ‘Jerry’ met die kan?
Haar jonger suster, Pat Reid sê sy het haar broer, Jasper Frederick Botha, in 1982 laas gesien toe hy en hul ander broer, Daniël Jakobus Botha, in die weermag was.
Hulle was sewe kinders, maar net sy en Anita is oor van die eens groot gesin.
Me. Reid vertel dat Jerry twee keer getroud was. By sy eerste vrou het hy ’n seun, Gerald, gehad. Hy het egter nooit geweet dat sy tweede vrou ’n baba gehad het met die naam, Johan, nie. “Daar is vir Jerry gesê dat sy die baba verloor het.”
Dit is juis Johan wat nou graag sy pa wil opspoor. Op sosiale media skryf Johan dat hy gehoor het sy pa swerf en dat hy hom graag “van die straat af wil haal.”
Persone wat hom opmerk, word gevra om Johan by 078 392 3940 te bel of me. Reid by 081 430 2138.
•Jerry is op 19 September 1963 gebore.
•Me. Reid het kort voor druktyd gesê dat iemand hulle hierdie week uit Durbanville gebel het, wat sê dat ’n man daar in die strate bedel, wat soos hul broer lyk. Hulle het egter nog nie foto’s om te bevestig of dit hy is nie.
