Video – Inwoner: ‘Ons betaal vir lug in plaas van water’
’n Dennesig inwoner is woedend nadat lug in sy waterpype sy watermeter soos ’n dobbelmasjien laat draai het, en hy toe die rekening moes betaal.
Japie Potgieter van Dennesig sê dat sy buurman, wat in Desember besig was om gras te sny, toevallig gehoor het sy watermeter gaan beserk en hom geroep het. Mnr. Potgieter sê dat hy toe moes uitvind dat hy nie net vir sy maandelikse watergebruik nie, maar ook vir die lug in die waterpype betaal.
Hy is met sy buitensporige waterrekening in die een hand en die video wat hy geneem het in die ander, na die Steve Tshwete Munisipaliteit om hulle te gaan konfronteer.
“Daar sê die man toe vir my hy is jammer, daar is niks wat hulle daaraan kan doen nie. En hy dreig my dat as ek nie my rekening betaal nie, sal hulle my water kom afsny,” sê mnr. Potgieter.
Hy sê dat sy waterlesing amper 50 000 liter was.
Mnr. Potgieter het toe vir Derek Watts, van Carte Blanche in Pretoria raakgeloop en by hom gekla.
“Hy het vir my gesê ek moet bewyse bymekaar maak en dit stuur,” sê mnr. Potgieter.
Mnr. Potgieter het ’n beroep op ander inwoners gedoen om hulle watermeters dop te hou en video’s te neem as hulle dieselfde ervaar. Hy kan gekontak word by 071 165 6912.
• Die Steve Tshwete Munisipaliteit kon nie dadelik op media navrae reageer nie omdat al hul bestuurders tans by ’n vergadering is en eers Maandag weer beskikbaar sal wees.
