Knoesen se ‘vriendin’ glo ondersoek
Daar is glo beslag gelê op meer as 5 000 rondtes ammunisie, sketse van polisie en weermag basisse, resepte om pypbomme en lont te maak, lyste met name van sellede, hul militêre opleiding en of hul toegang tot wapens het.
Dit was van die bewerings in die saak waar Eric en Errol Abrams saam met pastoor Harry Knoesen en Riana Heymans op aanklag van terrorisme tereg staan.
Die Abrams broers het Woensdag in die Middelburg Landdroshof aansoek gedoen vir borg.
Die Abramse is deur adv. Ben Coetzee (Bees) Bester verteenwoordig. Adv. RC Macadam, waarnemende direkteur van die vervolgingsgesag vir priotiteitsmisdade se litigasie eenheid, het vir die staat opgetree.
Adv. Bester het eedsverklarings van die Abrams broers aan die hof voorgelees. Daarin beweer hulle dat die staat se saak teen hulle swak is en dat hulle beplan om onskuldig te pleit op die aanklagte.
Lees ook: Outrage over war talks
Die broers is op 29 November 2019 saam met Heymans op die R550 aangekeer. Die mans sê dat hulle saam met Heymans op pad was na ene Rassie Erasmus, wat kontakte in die polisie het, sodat sy haarself kon oorgee.
Eric Abrams is ’n sakeman wat ’n herwinningsbesigheid bedryf, terwyl Errol Abrams ’n passer en draaier is. Die twee broers bly saam met Eric se vrou, seun, skoonma, hul eie moeder en Errol Abrams se dogter, op ’n plot in Kliprivier.
Adv. Bester het aan die hof gesê dat sy kliënte nie ’n vlug risiko inhou nie, geen vorige veroordelings het nie en beplan om hulself in die hof te verdedig, om hul onskuld te bewys.
Adv. Macadam het gesê dat die staat volhou dat daar ten alle tye ’n gemene doel tussen al vier beskuldigdes was. Hy het ’n verklaring, van die ondersoekbeampte, adjudant offisier Jaco Koekemoer, ingehandig.
Lees ook: “Haat-pastoor” Harry Knoesen aangekla van terrorisme
Daar is vertel hoe Knoesen op die polisie se radar gekom het, nadat hy videos op Facebook geplaas het, waarin hy ’n beroep doen op die “oumanne” vir “een laaste operasie”. Adv. Macadam het gesê dat hierdie oproep gerig was op veiligheidsmagte uit die apartheidsera.

’n Getuie is volgens die staat deur Knoesen genader wat vertel het dat hy ’n aanval beplan en wapens en ammunisie soek. ’n Ander getuie het vertel dat Knoesen beplan om die regering met geweld omver te werp. Die getuie is ook deur Heymans gekontak om sy beskikbaarheid vir die aanval te bevestig nadat Knoesen gearresteer is.
’n Stemboodskap, wat na bewering deur Knoesen gemaak is, lei dat hulle wapens moet gebruik om “Africans” te skiet.
Daar is besluit om op te tree toe Knoesen na bewering op 24 November 2019 gesê het dat hulle binnekort ondergronds gaan en geen kommunikasie gaan hê nie. Die persoon het die polisie gekontak en Knoesen is op 28 November gearresteer.
Lees ook: Inwoners stry oor “liefdevolle” Knoesen
Die polisie wou daarna Heymans se perseel deursoek. Hulle het haar gekontak en sy het na bewering gesê sy sal hulle terugbel maar het daarna haar foon afgesit.
Die staat voer aan dat Heymans by die Abrams broers gaan skuil het. Adv. Macadam het gesê dat hulle nie die weergawe, dat hulle op pad was om Heymans aan die polisie te gaan oorgee, glo nie, omdat daar volgens die staat geen melding daarvan gemaak is toe hulle gearresteer is nie.
Die staat is oortuig dat Heymans en die Abramse sou voortgaan met die aanval. Adv. Macadam het geargumenteer dat daar beslis ’n aanval sou wees omdat die teikens alreeds geïdentifiseer was. Die teikens het weermag en polisie offisiere sowel as Suid Afrikaners en immigrante ingesluit.
Daar is onder andere tydens die beskuldigdes se arrestasie beslag gelê op ’n nota wat deur Heymans geskryf is, wat lei dat mense nie moet afsien van hul planne nie, ten spyte van Knoesen se arrestasie.

Volgens die staat is daar ammunisie by Heymans gekry en is daar op ’n lys aangedui dat sy instaat is om ’n aanvalsgeweer te hanteer.
Daar is ook genoem dat die sel steeds bestaan en dat die ondersoek voortduur. Een persoon wat verder ondersoek word, is Knoesen se vriendin by wie hy gebly het voor sy inhegtenisname, omdat daar glo aanduidings is “dat sy haar werksrekenaar gebruik om namens Knoesen te kommunikeer”.
Adv. Macadam het gesê dat die sterk saak teen die beskuldigdes, saam met die vooruitsig van ’n lang vonnis, tot gevolg kan hê dat die beskuldigdes sal vlug as daar nie buitengewone omstandighede bestaan vir hul vrylating nie.
Lees ook: Abram brothers apply for bail
Die klagtes teen die beskuldigdes word voorgeskryf deur die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad Resolusies. Adv. Macadam het gesê dat net die voorbereiding van ’n terrorisme daad genoeg is om op ’n klag van terrorisme skuldig bevind te word.
Hy het aangevoer dat die beskuldigdes deel is van ’n groter netwerk, wyd verspreid oor die land, en dat nie een van die ander lede na vore gekom het na die arrestasies om te bieg nie.
Adv. Macadam het na die beskuldigdes as “geharde fanatikuste” verwys. Hy het ook gesê dat hulle deur middel van Telegram kommunikeer, ’n sosiale media-netwerk wat nie monitering deur owerhede ondersteun nie en dat die beskuldigdes sou kan kommunikeer met ander lede van die sel sonder dat owerhede hul kan monitor.
Landdros Deon Minnie het in sy uitspraak gesê dat hy saamstem dat daar ’n groot moontlikheid is dat die beskuldigdes kan ontsnap of met die ondersoek kan inmeng, sou hulle uit aanhouding vrygelaat word.
Borg vir beide Eric en Errol Abrams is geweier. Eric het vir ’n vlietende oomblik sy vrou se hand aangeraak voordat hulle afgelei is selle toe. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.
Knoesen, Heymans en die Abrams broers sal weer aan die einde van Februarie in die hof verskyn.
